Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Salazar, Russe gaan vir oulaas onskuld bepleit

Een van atletiek se mees omstrede figure, die afrigter Alberto Salazar, en ’n muishond van die sport, die Russiese agentskap teen die gebruik van verbode middels, sal albei in November in afsonderlike appèlverhore by die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) hul saak ’n laaste keer stel.

Alberto Salazar, die omstrede afrigter van Nike se Oregon-projek, se appèlsaak sal in November deur die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie aangehoor word. Foto: Getty Images

Salazar, wat onder meer in sy loopbaan die Britse langasem en Olimpiese kampioen Mo Farah gebrei het, sal appelleer teen die skorsing van vier jaar waarmee die Amerikaanse agentskap teen verbode middels (Usada) hom in Oktober gestraf het.

Dít het gevolg nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy die gebruik van verbode middels “georkestreer en gefasiliteer” het terwyl hy die hoofafrigter van Nike se Oregon-projek (NOP), ’n program vir elite-langafstandatlete wat spesifiek op hul uithouvermoëns gefokus het, was.

CAS, wat in Switserland gesetel is, het Dinsdag in ’n verklaring gesê dat Salazar en die NOP-spandokter Jeffrey Brown, wat dieselfde straf deur Usada opgelê is, se appèlverhoor tussen 8 en 16 November sal plaasvind.

Nike, wat die NOP befonds het, het voorheen aangedui dat hy Salazar sal ondersteun in sy poging om sy onskuld te bewys.

Die NOP is gesluit nadat Salazar geskors is.

Intussen sal Rusland se appèlsaak teen sy skorsing uit alle internasionale byeenkomste vir vier jaar ook in November deur CAS aangehoor word.

Rusada sal van 2 tot 5 November sport se hoogste hof daarvan probeer oortuig dat die straf wat die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (Wada) hom opgelê het, opgeskort behoort te word.

Wada het in Desember verklaar dat Rusada sy ondersoek – ná bewerings dat hy data van atlete se monsters in hul laboratorium in Moskou gemanipuleer het – dwarsboom.

Wada se ondersoekende span het bevind dat data wat hy in Januarie verlede jaar vanaf die Moskou-laboratorium verkry het, wat die tydperk van Januarie 2012 tot Augustus 2015 gedek het, nie geloofwaardig was nie.

Die gevolglike skorsing het meegebring dat geen Russiese atleet onder sy landsvlag aan enige byeenkomste mag deelneem nie.

Atlete mag wel individueel aansoek doen om as neutrale deelnemers hul slag in die Wêreldkampioenskap, Olimpiese en Paralimpiese Spele te wys, mits hulle genoegsame bewyse kan lewer dat hulle nie by opkikkers gebaat het nie.

Wada se skorsing is ook op die Russiese sokkerspan van toepassing. Sou hy vir die Wêreldbeker-toernooi in Katar in 2022 kwalifiseer, sal hy nie in Russiese kleure kan speel nie.

Ingevolge die bepalings van die skorsing mag Rusland ook geen internasionale sportbyeenkomste aanbied nie.

CAS se beslissings in dié sake sal as bindend beskou word. – Sportredaksie

Meer oor:  Atletiek  |  Verbode Middels  |  Opkikkers  |  Rusada  |  Alberto Salazar  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.