Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
KYK: Akani baas in Afrika, Samaai verras

Akani Simbine het Suid-Afrika se eerste goue medalje by die Afrika- senior kampioenskappe ingepalm op ’n dag wat heelwat vrugte vir ons plaaslike atlete ingehou het in Asaba, Nigerië.

Akani Simbine vroeër vanjaar tydens die Statebondspele in Goudkus, Australië. Foto: Getty Images

Nie net het Simbine sy voorkeurnommer, die 100 m, gewen nie, maar Simon Magakwe het ook die bronsmedalje in dieselfde nommer verower.

Die atlete moes teen ’n sterk wind van -2.1 meeding, met Simbine wat aanvanklik stadig uit die blokke was en van die vierde plek af deurgekom het om die wenstreep net-net eerste oor te steek in ’n tyd van 10.25 sekondes.

Arthur Cisse van die Ivoorkus was tweede in 10.33 sek., met Magakwe wat 10.35 gehardloop het vir sy derde plek.

Simbine is nou die Afrika- en Statebondkampioen in die 100 m, nadat hy in April ook goud gewen het in die Goudkus.

Hulle het albei ook gemaklik tot die eindronde deurgedring nadat hulle Donderdagoggend onderskeidelik 10.32 sek. en 10.37 sek. in die halfeindronde gehardloop het.

Ruswahl Samaai. Foto: Gallo Images

Ruswahl Samaai het vir ’n groot verrassing gesorg toe hy goud gewen het in die verspring met ’n beste afstand van 8.45 m, met die wêreldkampioen en sy landgenoot Luvo Manyonga wat tweede was met 8.43 m.

Dit was die eerste keer wat Samaai vir Manyonga by ’n internasionale byeenkoms kon klop.

Suid-Afrika het ook dubbele glorie in die diskus beleef met Victor Hogan wat op die boonste trap van die podium gestaan het, terwyl Werner Visser tweede was.

Hul afstande was nie beskikbaar nie.

Rikenette Steenkamp het Suid-Afrika se eerste medalje by die byeenkoms verseker toe sy in 13.18 sek. silwer in die 100 m-hekkies gewen het. Die Nigeriër Oluwatobiloba Amusan, die Statebondkampioen, was eerste in ’n blitstyd van 12.86 sek.

Kyle Blignaut. Foto: Gallo Images

Die 18-jarige Kyle Blignaut verdien ’n klop op die skouer nadat hy sy goue medalje by die o.20-Wêreldbyeenkoms in Tampere, Finland, opgevolg het met ’n puik vertoning teen die hardebaarde en die swaarder gewig.

Hy het die bronsmedalje in die gewigstoot gewen met ’n beste afstand van 19.05 m, wat hy in die vierde ronde gegooi het.

Enekwechi Chukwuebuka van Nigerië het met 21.08 m gewen.

Caster Semenya moes in die uitdunne van die 400 m hard werk om met Patience Okon George van Nigerië te kon afreken. Semenya het haar uitdun in 51.57 sek. gewen.

Margo Coetzee moes met die sesde plek tevrede wees in die hamergooi vir vroue met ’n beste poging van 58.86 m.

Zakour Soukaina van Marokko het bo op die podium gestaan met ’n beste afstand van 68.28 m.

Die byeenkoms duur tot Sondag.

Meer oor:  Akani Simbine  |  Nigerië  |  Asaba  |  Ruswahl Samaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.