Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Caster Semenya baas in taai 5 000 m

Eendeweer in Germiston het Wayde van Niekerk Donderdag sy spykerskoene terug in sy sak laat sit – maar kon Caster Semenya nie weerhou van nóg ’n stukkie geskiedenis nie.

Die eerste dag van die Suid-Afrikaanse atletiekbyeenkoms is Donderdag behoorlik deurmekaar gekrap nadat reën met mening uit die hemele neergesak het. Die byeenkoms is vir sowat ’n uur gestop terwyl beamptes geskarrel het om die amperse swembad op die tartanbaan op te droog.

Caster Semenya het die nasionale 5 000-titel Donderdag vir die eerste keer ooit gewen. Foto: Gallo Images

Die kollig kon daarna verskuif na die atlete – en dit was geen verrassing nie dat Semenya een van die deelnemers was wat daarin gedy het.

Semenya, die Olimpiese kampioen oor 800 meter, het vir die eerste keer ooit die nasionale kroon in die 5 000 m verower, toe sy die wedloop in 16 minute en 5.99 sekondes gewen het.

Dominique Scott-Efurd was tweede in 16:13.71.

Semenya neem natuurlik steeds deel met die swaard van moontlike testosteroon-regulering wat oor haar hang, en dis onduidelik wanneer die internasionale hof vir sportarbitrasie uitspraak oor haar saak teen die IAAF sal lewer. Teen die agtergrond daarvan is dit verstaanbaar dat sy haarself oor 5 000 meter toets. Dít is nie ’n item waarin die IAAF atlete se testosteroonvlakke wil reguleer nie, anders as die 800 en 1 500 (die twee items waarin sy die Statebond-kampioen is).

Die langasem is nietemin nie van plan om haar rug op haar gunsteling-items te keer nie. Sy het vroeër Donderdag lag-lag die vinnigste tyd van die uitdunne van die 1 500 m opgestel: 4 minute 30.65 sekondes.

Thineke Cloete was die naaste in 4:39.64.

Van Niekerk, een van die ander wêreldsterre in Germiston, het nie soos verwag in die blokke gesak in die 400 m (waarin hy die Olimpiese kampioen is) nie.

Sy breier, Ans Botha, het aan Netwerk24 gesê hy het onttrek weens kommer dat die koue tot ’n besering kan lei.

“Wayde se knie en die koue is nog nie maats nie,” het Botha gesê. “Dit gaan ons niks in die sak bring om twee jaar se harde werk en oefening tot niet te maak nog voor die seisoen werklik begin het nie.”

Met Van Niekerk nie in aksie nie was Ranti Dikgale die vinnigste deelnemer, met ’n tyd van 45.98.

Luvo Manyonga het sonder moeite vir Saterdag se eindronde van die verspring-kompetisie gekwalifiseer. Foto: Gallo Images

In die verspring het die wêreldkampioen Luvo Manyonga vir Saterdag se eindronde gekwalifiseer met ’n afstand van 8.16 m, die beste van die dag. Zarck Visser was die naasbeste met 7.92 en die Afrika-kampioen Ruswahl Samaai kort op sy hakke met 7.91.

Elders het Simon Magakwe die agtste nasionale titel van sy loopbaan in die 100 m verower.

Magakwe het sy titel suksesvol verdedig in 10.05 sekondes en nog ’n veer in sy hoed gevoeg by dié van 2009, 2010, 2011, 2012, 2013, 2014.

Noord-Gauteng se Tebogo Mamatu het goud gewen in die vroue se 100. ’n Wentyd van 11.45 het haar ’n eerste nasionale senior titel in die sak gebring. Sy het geseëvier in die afwesigheid van die verdedigende kampioen en nasionale rekordhouer, Carina Horn.

Rocco van Rooyen het die eerste keer sedert 2015 die goue medalje om sy nek gehang in die spiesgooi nadat hy ’n afstand van 77.82 m behaal het. Die Kapenaar het die bordjies verhang ná hy verlede jaar net vierde kon eindig.

Julia du Plessis van Sentraal-Gauteng het dit ses in ’n ry in die hoogspring gemaak toe sy oor die dwarslat geseil het op ’n hoogte van 1.80 m. Dis dieselfde hoogte waarmee sy in 2018, 2016 en 2015 geseëvier het.

In die hamergooi het Margo Pretorius haar titel verdedig met ’n persoonlike beste afstand van 61.89 m.

Pretorius het die druk wat Marga Cumming (61.27 m) op haar geplaas het goed hanteer en heelwat beter vertoon as verlede jaar, toe sy met ’n 58.97 gewen het.

Die Westelike Provinsie se Antonio Alkana en Noord-Gauteng se Ruan de Vries het die uitdunne gebruik om hul groot ambisies in die 110 m-hekkies duidelik te maak.

Net ’n enkele millisekonde het hulle van mekaar geskei met Alkana wat eerste was in 13.72.

In die uitdunne van die 400-hekkies was Lindsey Hanekom (49.76) die enigste man wat die stophorlosie in minder as 50 sekondes kon stop. Die voormalige Statebond-kampioen Cornel Fredericks (50.76) het ook goed gelyk.

Die vroue se 400 m-hekkies se eindronde sal weer ’n tweestryd tussen Wenda Nel en Zeney van der Walt wees.

Die paar was kop en skouers bo die res, met Nel wat ’n uitduntyd van 56.50 opgestel het en Van der Walt ’n 56.86.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.