Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Semenya behaal vinnigste tyd vanjaar

Suid-Afrika se Caster Semenya en Akani Simbine was van die uitklinkers by die eerste Diamantliga-byeenkoms Vrydagaand in Doha, Katar.

Caster Semenya het in Doha die viiniste tyd vanjaar in die 800 m aangeteken. Foto: Roger Sedres/Gallo Images

Die Olimpiese 800 meter-kampioen Semenya het trouens die vinnigste tyd vanjaar in dié item by die byeenkoms gehardloop.

Ofskoon ver van haar beste tyd van 1:55:28, waarmee sy goud op verlede jaar se Spele in Rio de Janeiro ingepalm het, was die 1:56:61 van Vrydagaand steeds ’n nuwe byeenkomsrekord.

Die Keniaan Margaret Wambui, wat verlede jaar op die Spele met die bronsmedalje tevrede moes wees, was tweede in ’n tyd van 1:57:03.

Met die eerste ronde was die Potchefstromer in ’n groep wat Wambui ingesluit het, wat net agter die pasaangeër, Jeniffer Meadows van Engeland, gebly het.

Maar oor daardie laaste 200 m was dit Semenya, wat bekend is om haar vaartversnelling om die laaste twee draaie, wat onder die atlete uitgeseil het.

Wambui het oor die laaste 100 m alles probeer om Semenya in te haal, maar moes weer die knie voor haar buig.

Eunice Sum van Kenia was derde in ’n tyd van 1:58:76.

Die 23-jarige Simbine het later die aand die 100 meter in ’n tyd van 9:99 (wind -1.2) gewen.

Dit was genoeg om ysters soos Asafa Powell van Jamaika in die tweede plek met 10:08 te dwing, met Femi Ogunode wat met ’n tyd van 10:13 en die derde plek tevrede moes wees.

Justin Gatlin van Amerika, wat met ’n beste tyd van 9:74 oor dié afstand spog, het in die vierde plek in 10:14 geëindig.

In die spiesgooi het Thomas Röhler van Duitsland met ’n monstergooi van 93.90 vorendag gekom.

Hy is maar die tweede spiesgoeier wat die spies so ver kon slinger na Jan Železný wat in 1996 die wêreldrekord van 98.48 aangeteken het.

Die tweede van 14 byeenkomste in die Diamantliga vind op 13 Mei in Shanghai, China plaas.

Meer oor:  Doha  |  Caster Semenya
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.