Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Semenya en Horn laat SA rekords spat

Sy was nog tjoepstil nadat die storm rondom die IAAF se nuwe reël losgebars het, maar Caster Semenya het Vrydagaand deeglik lawaai op die atletiekbaan gemaak by die eerste ronde van die Diamantliga-reeks wat in Doha, Katar, gehou is.

Die Suid-Afrikaner het gewys dat sy haar min steur aan die bohaai wat die afgelope twee weke rondom haar afgespeel het nadat die Internasionale Vereniging van

Atletiekfederasies (IAAF) sy regulasies rondom vroue-atlete met hoër natuurlike testosteroonvlakke aangepas het. Semenya het haar eie Suid-Afrikaanse rekord in die 1 500 m verbeter.

Caster Semenya het Vrydagaand in Doha, Katar, ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord in die 1 500 m opgestel en die eerste Suid-Afrikaanse vrou geword wat dié afstand in onder 4 minute hardloop. Foto: Reuters

Semenya, wat in April die goue medaljes in die 1 500 m en 800 m op die Statebondspele gewen het, het vir die eerste keer onder vier minute in dié nommer gehardloop – die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat dit kon regkry. Sy het die wenstreep in 3 minute 59.92 sekondes oorgesteek, om haar eie rekord van 4:00.71 te verbeter.

Die wentyd is ook die voorste tyd tot dusver vanjaar in die wêreld.

Die Suid-Afrikaner het koel en kalm gelyk en oudergewoonte haar beste vir die laaste 200 m gelos waar sy van die vyfde plek tot die eerste plek geklim het.

Nelly Chepkosgei van Kenia was tweede in ’n persoonlike beste tyd van 4:00.99.

Tuks se Carina Horn het haarself onderskei as die vinnigste vrou in die naellope in Suid-Afrika se geskiedenis nadat sy die eerste Suid-Afrikaner geword het wat die 100 m in onder 11 sekondes kon afnael. Sy het vyfde geëindig in 10.98 sek., met Marie-Josée Ta Lou van die Ivoorkus wat eerste was in 10.85 sek., wat ook die voorste tyd in die wêreld vir 2018 is.

Horn het in Maart by die nasionale byeenkoms die Suid-Afrikaanse rekord in die 100 m tot 11.03 sek. verbeter, maar haar vertoning in Doha het gewys waartoe sy werklik in staat is. Horn het nie aan die Statebondspele deelgeneem nie.

Pieter Conradie, die tweemalige nasionale kampioen in die 400 m, het in die binneste baan gehardloop en in 46.68 sek. agtste geëindig.

Dit was egter Steven Gardiner van die Bahamas wat die res in sy stof laat byt het in ’n nasionale rekord van 43.87 sek., wat ook die vinnigste tyd van 2018 tot dusver is.

Die Statebond-kampioen, Isaac Makwala van Botswana, moes in 44.92 sek. met die derde plek tevrede wees.

Cornel Fredericks het vyfde in die 400 m-hekkies klaargemaak in 50.03 sek., met Abderrahman Samba van Katar wat al sy sweet begin afvee het voordat sy naaste teenstander die wenstreep kon oorsteek. Hy het in ’n blitsige 47.57 gewen vir ’n nasionale rekord, Diamantliga-rekord en die voorste tyd ter wêreld vir die jaar.

Khotso Mokoena het sesde in die driesprong klaargemaak.

Hy het met sy tweede sprong sy eerste wettige afstand gekry van 16,92 m, wat ook sy beste van die aand was.

Pedro Pablo Pichardo van Kuba was eerste met 17,95 m.

  • Intussen beoog die beseerde Wayde van Niekerk om in Julie weer op die baan te wees.

Peet van Zyl, Van Niekerk se agent, het Vrydag vanuit Doha aan Netwerk24 bevestig dat die wêreldrekordhouer in die 400 m moontlik in Julie weer sal begin oefen.

“Wayde sal dan net begin oefen, maar hy sal eers in 2019 weer beskikbaar wees vir enige byeenkomste,” het Van Zyl gesê.

Meer oor:  Doha  |  Iaaf  |  Carina Horn  |  Caster ­Semen­Ya
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.