Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Silwer randjie vir Sunette ná Rus se skorsing

Russiese atlete se opkikkerskandes die afgelope dekade het vandeesweek ’n onverwagse meevaller vir ’n Suid-Afrikaanse atleet meegebring.

Barbara Spotakowa van die Tsjeggiese Republiek (links), Marija Abakoemowa van Rusland (middel) en Sunette Viljoen (regs) vier hul medaljes by die IAAF se Wêreldkampioenskappe in Daegoe in 2011. Foto: Getty Images

Die Atletiek-integriteitseenheid, ’n onafhanklike liggaam wat in 2017 deur die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) in 2017 gestig is, het dié week bevestig dat die spiesgooier Marija Abakoemowa en die verspring- en driesprong-atleet Tatjana Lebedewa geskors is nadat hul monsters van die Wêreldbyeenkoms in 2011 (in Daegoe, Suid-Korea) hertoets is.

Albei het positief getoets vir die gebruik van die verbode middel dehidrochlormetieltestosteroon (turinabol).

Abakoemowa het daardie jaar goud in die spiesgooi verower en Suid-Afrika se Sunette Viljoen was die bronsmedaljewenner. Die Rus is egter nou van haar goue medalje gestroop en Viljoen sal die silwermedalje ontvang.

Die spiesgooier Sunette Viljoen sal nou tot die silwermedalje vir die IAAF se Wêreldkampioenskappe in 2011 bevorder word. Foto: Getty Images

Barbara Spotakowa van die Tsjeggiese Republiek word tot in die eerste plek bevorder.

Abakoemowa het destyds ’n wen-afstand van 71,99 m, wat in daardie stadium ’n nasionale rekord, baanrekord en die voorste afstand in die wêreld was vir die jaar, behaal.

Dieselfde atleet moes reeds die silwermedalje wat sy in die Olimpiese Spele in Beijing (in 2008) verower het, teruggee nadat sy in 2016 deur die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) geskors is as deel van sy program om monsters te hertoets.

Al Abakoemowa se uitslae tussen 21 Augustus 2008 en 20 Augustus 2012 sal uit die geskiedenisboeke gewis word. Dit sluit die bronsmedalje in wat sy in 2009 op die IAAF se Wêreldkampioenskappe in Berlyn gewen het. Sy is vir vier jaar geskors.

Viljoen se destydse afstand in Daegoe was 68,38 m, wat toe ’n Afrika-rekord was. Sy het in 2012 haar Afrika-rekord op ’n Grand Prix-byeenkoms in New York tot 69,35 m verbeter.

Viljoen het haar vreugde op Twitter uitgespreek.

“Sopas uitgevind dat ek eintlik die silwermedaljewenner op 2011 se Wêreldkampioenskappe in Daegoe was en nie die bronsmedaljewenner nie… Die gouemedaljewenner is van haar medalje gestroop oor opkikker en nou dié nuus…”

Sy het wel uitgewys dat die verandering in die podium geen finansiële voordeel vir haar inhou nie.

“Ek is so gelukkig… Maar dis steeds ’n finansiële verlies,” het sy getwiet.

Lebedewa, wat in Beijing in 2008 die silwermedalje in die verspring verower het, se uitslae tussen die tydperk van 18 Augustus 2008 en 17 Augustus 2010 sal ook nie meer geld nie, wat beteken dat sy haar silwermedalje ook kwyt is. Sy is vir twee jaar geskors.

Albei atlete het in die internasionale hof vir sportarbitrasie (CAS) teen hul skorsings geappelleer, maar dit was onsuksesvol.

Volgens die Atletiek-integriteitseenheid is Abakoemowa langer gestraf omdat haar monster ook positief getoets het vir die gebruik van die verbode middel dehidrochlorormetiel-testosteroon.

Caster Semenya (800 m) en die mans 4x400-aflosspan (Shane Victor, Ofentse Mogawane, Willem de Beer en LJ van Zyl) het in 2011 ook silwermedaljes gewen, terwyl Van Zyl (400-hekkies) ook ’n bronsmedalje verower het.

Meer oor:  Atletiek  |  Iaaf  |  Sunette Viljoen  |  Asa  |  Marija Abakoemowa  |  Opkikkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.