Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Simbine en Samaai proe weer goud

Akani Simbine en Ruswahl Samaai het Dinsdagaand ’n goue aand in Rovereto, Italië beleef op die “Silwer-byeenkoms” van Wêreldatletiek se kontinentale reeks.

Akani Simbine. Foto: Getty Images

Dié twee plaaslike sterre het die boonste trap van die podium bestyg met hul oorwinnings in onderskeidelik die 100 m en verspring waar hulle uitgeblink het terwyl hulle steeds werk om die roes af te skud.

Simbine, die 2018-Statebondkampioen, het die Italianers se partytjie bederf toe hy die 100 in 10.17 sekondes gewen het. Die Italianer Marcell Jacobs moes met silwer tevrede wees in 10.21.

Nog ’n Italianer, Fostine Desalu, het brons gewen in 10.33.

Dit was die Tuks-atleet se tweede byeenkoms sedert Maart.

Hy het verlede week in Marseille, Frankryk ook geseëvier op die “Brons-byeenkoms” in dié reeks.

Ruswahl Samaai was ook op sy stukke toe hy die verspring net-net beklink het met sy afstand van 8,00 m.

Samaai se wensprong is reeds in die tweede ronde behaal.

Dit was egter ’n taai stryd tussen die Afrika-kampioen en die Italianer Filippo Randazzo, wat eindelik naelskraap met die tweede plek tevrede moes wees nadat hy ’n beste van 7,99 m in die derde ronde gespring het.

Samaai het geopen met 7,88 m, waarna hy met sy vierde en vyfde pogings 7,96 m gespring het. Hy het afgesluit met 7,79 m.

Ingar Kiplesund van Noorweë was derde met 7,37 m.

Antonio Alkana kon egter nie in dié twee se spore volg nie.

Hy het ’n sesde plek in die 110 m-hekkies behaal in 13.78.

Freddie Crittenden was hier eerste in 13.31.

• Op die Golden Spike-atletiekbyeekoms in Ostrava het die Noorweër Karsten Warholm die byeenkomsrekord van Suid-Afrika se LJ van Zyl ná nege jaar laat val.

Warholm, wat onlangs die naasbeste tyd in die geskiedenis in die 400 m-hekkies gehardloop het, was dié slag heelwat buite die wêreldrekord in 47.62.

Desondanks het hy Van Zyl se byeenkomsrekord van 47.66 net-net oortref.

Die voormalige Statebondkampioen het dié tyd in 2011 gehardloop in ’n jaar waar hy op die kruin van sy loopbaan was. Ál vier die voorste tye in die wêreld het daardie jaar agter sy naam gestaan.

Sy tyd in Ostrava was toe gesamentlik die voorste in die wêreld nadat hy dit eers in Pretoria by Tuks behaal het, voordat hy dit in Ostrava geëwenaar het.

Warholm het hom egter intussen as een van die voorste atlete nog in dié nommer gevestig en reeds tye van 46.87 en 46.92 agter sy naam geskryf.

In die paalspring het die 24-jarige Filippyn, Ernest Obiena, die gunstelinge, Sam Kendricks en Renaud Lavillenie, verras deur met die louere weg te stap.

Obiena was met sy eerste poging oor die dwarslat op ’n hoogte van 5,34 m en het weer so gemaak op 5,54 m. Hy het twee pogings op 5,64 m en 5,74 m nodig gehad om eindelik eerste te eindig.

Lavillenie was ook op 5,74 m suksesvol, maar het drie pogings op 6,64 m benodig.

Kendricks kon egter net ’n hoogte van 5,64 m behaal nadat ál drie sy probeerslae op 5,74 m onsuksesvol was.

In die spiesgooi het Tsjeggië se Barbora Spotáková met ’n afstand van 65,19 m gewen, terwyl Pole se Maria Andrejczyk naasbeste was met 63,59 m.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.