Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Simbine ‘se kop op ander plek’ in Birmingham

Akani Simbine se teleurstellende vertoning in Birmingham is geen rede tot kommer met die oog op die komende Wêreldkampioenskap nie.

Só meen die nasionale rekordhouer en Statebondkampioen in die 100 m se breier, Werner Prinsloo.

Simbine het Sondag, tydens die 11de byeenkoms van die Diamantliga-reeks, twee keer sy stadigste tyd in 2019 gehardloop. Eers het hy sy uitdun in 10.15 sekondes afgelê en daarna presies dieselfde tyd in die eindronde herhaal, wat net goed genoeg was vir ’n sewende plek.

Akani Simbine storm eerste oor die eindstreep in die 100 m by die Diamantliga-reeks in Londen in Julie. Foto: Reuters

“Ons het Donderdag ’n goeie oefensessie gehad, wat vir my kans gegee het om met hom te praat oor Birmingham,” sê Prinsloo, wat Donderdag in Italië geland het waar hy en Simbine verder sal voorberei.

“Die byeenkoms in Birmingham was nie deel van ons planne aan die begin van die seisoen nie. Om die waarheid te sê, ons het dinge aanvanklik so beplan dat ons glad nie die byeenkoms in Birmingham hoef te doen nie, want ons weet die weer speel nie altyd daar saam nie.”

Simbine het verlede maand in Londen met sy eerste plek tydens die tiende ronde van die reeks reeds sy plek in die eindronde op 29 Augustus in Zürich, Switserland, beklink. Hy het die wenstreep toe in ’n haastige 9.93 oorgesteek.

Prinsloo meen dat daar toe op die nippertjie wel besluit is om in Birmingham deel te neem.

“Daar was ander aansporings op die spel by die byeenkoms in Birmingham en hy (Akani) het daarom besluit hy wil daar gaan hardloop.

“Wat sy vertoning daar betref, het hy bietjie fokus verloor in die week voor die byeenkoms as gevolg van omstandighede en gebeure buite sy beheer.”

Prinsloo wou nie uitbrei oor wat voor die byeenkoms gebeur het nie, maar meen wel dat dit ’n uitwerking op sy vertoning kon hê.

“Dit het ’n invloed op sy fokus gehad, maar fisiek is daar niks fout nie en hy het geen beserings of so iets nie. Sy konsentrasie was maar net nie na wense op die dag en ’n paar dae voor die tyd nie.”

Wat sy voorbereiding betref, fokus hy suiwer op die Wêreldkampioenskap.

Simbine sal op Vrydag 27 September in die uitdunne van die 100 in die blokke sak by die Wêreldkampioenskap in Doha, Katar. Die eindronde word die volgende dag beslis.

“Alles verloop nog volgens plan vir ons vir Doha en daar is nog twee wedlope voor dán. Wat sy voorbereiding betref, fokus hy suiwer op die Wêreldkampioenskap.”

Die Suid-Afrikaner het in 2017 in Londen vyfde klaargemaak in die eindronde, maar dit in 2018 opgevolg met die goue medalje by die Statebondspele in Australië se Goudkus.

Hy sal hom egter moet staal vir ’n taai stryd met name soos die VSA se Christian Coleman, Jamaika se Yohan Blake, Nigerië se Divine Oduduru en Ivoorkus se Arthur Cissé wat hom tot sy uiterste sal toets.

Meer oor:  Akani Simbine  |  Atletiek  |  Iaaf  |  Asa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.