Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Skhosana stippel toekomsvisie uit

Atletiek Suid-Afrika (ASA) sal Saterdag uiteindelik sy langverwagte ampsverkiesing hou, terwyl sy huidige baas, Aleck Skhosana, ’n derde termyn as president in sy visier het.

Dié verkiesing wat normaalweg elke vier jaar – in die jaar van die Olimpiese Spele – gehou word, is tot 8 Mei vanjaar uitgestel nadat ASA se kantore verlede jaar weens die Covid-19-pandemie lank gesluit was.

In ’n omvattende verkiesingsmanifes het Skhosana sy planne en drome uiteengesit indien hy weer tot president van ASA verkies sou word.

Skhosana, wat al sedert 2014 aan die stuur van sake is, het die werwing van borge en uitsaai-inkomste as twee van sy grootste mikpunte uiteengesit.

Aleck Skhosana beoog ’n derde termyn as president van Atletiek Suid-Afrika (ASA). Foto: Gallo Images

“Ons is op die punt om ’n nuwe uitsaaikontrak aan te kondig nadat onderhandelinge vir ’n allesomvattende kontrak vir drie tot vyf jaar afgehandel is.”

Dié kontrak sal op atletiek, padwedlope en landloop, asook klub- en skoleatletiek in agtergeblewe gebiede fokus.

“Baie is reeds gedoen en baie moet nog gedoen word. Ons sal voortdurend ’n omgewing moet skep wat dinge aanloklik vir borge en potensiële borge maak,” het hy gesê.

Volgens Skhosana beteken dit onder meer dat ASA nasionale kompetisies met die oog op die borge moet skep.

Een van sy doelwitte is om ASA-raadslede en provinsiale unies vir elke atletieknommer in hul portefeuljes aanspreeklik te hou.

“Dit beteken eenvoudig dat daar ’n funksionele afrigtingstruktuur, tegniese strukture en administrasie moet wees.”

Hy het gesê hierdie benadering deur raadslede sal voorkom dat die blaam rondgegooi word wanneer verantwoording gedoen moet word.

Die prestasies van vroue in atletiek is ook ’n groot rede tot kommer. Daar sal dus gefokus word op die volle ondersteuning van vroue-atlete deur programme wat ASA sal finansier sodat hulle tot op die vlak van hul manlike eweknieë kan uitstyg, het hy gesê.

Skhosana meen dat die bydrae van skoleatletiek, tersiêre atletiek en para-atletiek ook ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die sport speel.

“Dit is tyd dat hierdie instellings ’n belangriker rol in die beplanning van die toekoms van atletiek in Suid-Afrika vervul. Daarom stel ek voor dat hulle ook komitees saamstel, maar dit sal wel veranderinge aan ASA se grondwet vereis.”

Alternatiewe byeenkomste, wat ’n nasionale reeks insluit waaraan buitelandse atlete mag deelneem, word ook deur Skhosana in die vooruitsig gestel, terwyl ’n nasionale aflosreeks – van o.12- tot senior vlak – jaarliks tussen Oktober en Desember beoog word.

Verder het hy gesê ASA wil sy naam in die hoed gooi vir verskeie brons- en silwerbyeenkomste van Wêreldatletiek met Kaapstad, Tshwane, Durban en Johannesburg wat gasheer kan speel.

Skhosana se grootste teenstander in Saterdag se verkiesing sal straks James Moloi, hoof van Sentraal-Gauteng Atletiek, wees.

Moloi kan die verrassingspakket wees nadat Skhosana aanvanklik verlede jaar, voordat die verkiesing uitgestel is, onbestrede vir nog ’n termyn sou wees.

Sentraal-Gauteng het vanjaar al verskeie suksesvolle atletiekbyeenkomste aangebied, wat die eerste halfmarathon sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie ingesluit het. Dit het onder meer daartoe gelei dat sewe streke hul steun aan Moloi duidelik gemaak het.

Meer oor:  Atletiek  |  Asa  |  Aleck Skhosana  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.