Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Steenkamp mors wéér met SA rekord

Sy mag dalk net-net nie plek in die eindronde gekry het nie, maar Rikenette Steenkamp het Vrydagaand wéér ’n Suid-Afrikaanse rekord laat spat.

Dié oudleerling van die Hoërskool Menlopark in Pretoria het tydens Wêreldatletiek se laaste ronde van die binnenshuise atletiekreeks die 60 m-hekkies in ’n haastige tyd van 8.17 genael.

Rikenette Steenkamp Foto: Getty Images

Sodoende het sy in Madrid, Spanje, haar eie vorige nasionale rekord in dié nommer, wat sy net ’n week tevore in Glasgow tot 8.29 sek. verbeter het, aan flarde gelaat.

Steenkamp het vyfde geëindig in die uitdunne en met net ’n breukdeel van ’n sekonde nie ’n plek in die eindronde gehaal nie.

Die VSA se Christina Clemons het eindelik in die eindronde met goud weggestap nadat sy in ’n blitsige tyd van 7.82 sek. die wenstreep oorgesteek het.

Vir Steenkamp was dit nietemin ’n suksesvolle einde tot die reeks.

Die ou rekord was 9.44 sek. en is in 2004 deur Winnie de Winnaar opgestel, voordat Simoné Reinders dit in 2015 geëwenaar het.

Vir Steenkamp, wat verlede jaar haar buiging by Wêreldatletiek se Wêreldkampioenskap gemaak het in die 100 m-hekkies nadat sy as ’n promotorskeuse ingesluit is, sal dié voorbereiding moontlik nog ver gaan in ’n jaar waar ’n Olimpiese Spele wag.

Dít nadat sy verlede jaar die halfeindronde in Doha gehaal het.

Met haar laaste poging het Venezuela se Yulimar Rojas ’n nuwe binnenshuise wêreldrekord gespring in die driesprong.

Sy het die maatband tot ’n allemintige 15.43 m laat rek.

Die tweemalige wêreldkampioen het nie die beste begin gehad nie nadat sy met ’n onwettige sprong geopen het, maar daarna vinnig haar ritme gevind.

Haar tweede poging was ’n afstand van 14.65 m om haar reeds die voortou te laat neem.

Hoewel sy in die derde ronde weer ’n onwettige sprong gelewer het, was haar vierde van 15.29 genoeg om haar eie Suid-Amerikaanse binnenshuise rekord te verbeter.

Sy het met haar vyfde poging weer oorgetrap, maar met haar sesde en laaste tot in die rekordboeke gespring.

Met dié poging het sy nie minder nie as 7 cm by die vorige beste gevoeg, wat al sedert 2004 staan.

Luvo Manyonga kan hom ook maar gerus reeds begin staal vir taai teenstand in die verspring vanjaar.

Die Kubaan Juan Miguel Echevarría het sy seisoen geopen met ’n afstand van 8.41 m by dieselfde byeenkoms. Hy het verlede jaar brons gewen by die Wêreldkampioenskap en sal vanjaar een van die groot aanspraakmakers op die goue medalje wees by die Tokio-Spele.

Damian Czykier van Pole het met die louere in die mans se 60 m-hekkies gespog nadat hy die wedloop in 7.48 voltooi het.

Collins Kipruto is ná ses internasionale binnenshuise byeenkomste in 2020 steeds onoorwonne in die 800 m.

Die Keniaan het dié nommer in 1:46.09 voltooi vir sy goue medalje.

Die VSA se Ronnie Baker is ook vroeg in die seisoen nog op koers nadat hy die 60 m in 6.44 gewen het.

Meer oor:  Rikenette Steenkamp  |  Madrid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.