Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Steyn slyp in Franse Alpe vir Comrades

Sy het vir haar geen mikpunt gestel vir ’n bepaalde tyd wat sy Sondag met die Comrades verby Drummond, die halfpadkerf, wil verby gaan nie, sê Gerda Steyn, die Twee Oseane-kampioen, en 2018 se Comrades-naaswenner.

Steyn (28) sê sy sal haar deur haar polshorlosie laat lei om te keer dat sy nie te vinnig begin nie, maar sal terselfdertyd seker maak sy is nie te ver agter die ander gunstelinge nie.

Gerda Steyn toe sy vroeër vanjaar die Twee Oseane-wedloop oor 56 km in die Kaap gewen het.Foto: Gallo Images

Die wedloop word oor ’n afstand van 86,83 km tussen Durban en Pietermaritzburg gehardloop.

“Ek wil strategies hardloop. Wat ek wil doen, is om die tweede helfte van die wedloop vinniger te hardloop as die eerste,” sê die Nedbank-atleet, ’n boorling van Bothaville in die Vrystaat en ’n oud-Kovsie.

“Die mededinging in die afdeling vir vroue gaan kwaai wees. Daar is heelparty baie sterk vroue,” sê Steyn.

Nadat sy in die Paasnaweek haar Twee Oseane-titel suksesvol verdedig het, het sy vir ’n week in die Kaap agtergebly om te herstel.

In dié tyd het sy nie gehardloop nie, maar baie gestap.

Hierna het sy in die Franse Alpe gaan oefen.

"Wat ek wil doen, is om die tweede helfte van die wedloop vinniger te hardloop as die eerste."
- Gerda Steyn

“Dit was net nadat die ski-seisoen tot ’n einde gekom het. Dit was wonderlik en baie stil,” sê sy.

Sy het in dié tyd ook baie in die berge gestap. Die hoogte van die plekke waar sy geoefen het, het gewissel van 1 600 m bo seevlak tot 2 200 m.

Ann Ashwoth, verlede jaar se Comrades-kampioen, oefen ’n paar weke gelede hoog bo seevlak naby Dullstroom in Mpumalanga.Foto: Sarel van der Walt

Steyn word deur Nick Bester, negemalige Comrades-gouemedaljewenner, en die Comrades-kampioen van 1991 afgerig.

Steyn word beskou as een van die talentvolste deelnemers in Sondag se wedloop.

Sy het in 2018 in die New York-marathon ’n tyd van 2:31:04 aangeteken. Voor dit het sy haar beste tyd oor 10 km (33:36) in Durban aangeteken en dit vroeër vanjaar opgevolg met haar beste halfmarathontyd van 1:12:35 in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE).

Die Amerikaner Camille Herron, met die hardloopstyl wat op die oog af ongemaklik lyk, is die verdedigende kampioen in die op-wedloop.

Onder die ander gunstelinge tel Ann Ashworth (Massmart) 2018 se wenner, wat later ’n 2:35-marathon in Spanje gehardloop het. Ashworth het as deel van haar voorbereiding lank saam met die afrigter John Hamlett se atlete by Dullstroom in Mpumalanga geoefen.

Die Amerikaner Devon Yanko (Nedbank), ’n driemalige gouemedaljewenner, sal ook weer aantree.

Camille Herron, wenner van die laaste op-wedloop. Foto: Gallo Images
Charné Bosman vroeër vanjaar op pad na haar oorwinning in die Om die Dam-wedloop oor 50 km by die Hartbeespoortdam in Noordwes.Foto: Sarel van der Walt

Die 43-jarige veteraan Charné Bosman, die 2016-kampioen wat al tweede in die op-wedloop was, sê dit het ook goed gegaan met haar voorbereiding.

“Ek was vir drie weke op Graskop (ook in Mpumalanga). Ek het goed geoefen en voel goed.

“Al wat nou erg is, is die gewag vir die wedloop om te begin. Dit maak my klaar,” lag sy.

Sy en Lindsey Parry, haar afrigter, het Dinsdag hul finale voorbereidingsvergadering gehad waarop hulle sekere doelwitte tydens die wedloop gestel het.

“Ek hardloop net teen myself en weet nou presies teen watter tye ek waar wil wees.

“Wat my baie opgewonde maak, is dat ek die eerste keer in my groennommer (42795) gaan hardloop,” sê die Murray & Roberts-atleet.

Sy wou nie sê watter tyd sy in haar visier het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.