Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Streng proses vir SA atlete wat oorsee mik

Plaaslike atlete wat aan buitelandse byeenkomste wil deelneem, sal eers deur ’n streng keuringsproses moet gaan wanneer inperkingsmaatreëls sodanig verslap dat internasionale reise toegelaat word.

Aleck Skhosana, president van die ASA. Foto: Gallo Images

So sê Aleck Skhosana, president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), nadat dié liggaam Saterdag in ’n verklaring aangekondig het dat hy geen plaaslike byeenkomste in die afsienbare toekoms sal aanbied nie en ook geen deelname aan internasionale byeenkomste sal toelaat totdat hy dit as veilig beskou nie. Dít ondanks die feit dat nuwe vlak 3-regulasies niekontaksportsoorte soos atletiek toelaat om weer byeenkomste aan te bied.

ASA se verklaring het onsekerheid by atlete laat ontstaan oor of hulle wel oorsee sal kan reis om aan atletiekbyeenkomste deel te neem indien die nasionale staat van inperking dit toelaat. Baie van hulle het kontrakte met borge, wat van hulle vereis om aan sekere internasionale byeenkomste deel te neem.

Atlete wat aan oorsese byeenkomste soos die Diamantliga-reeks wil deelneem, moet gebruiklik eers toestemming daarvoor by ASA kry. Volgens Skhosana sal dié proses nou strenger toegepas word wanneer die regering weer die groen lig gee vir atlete om oorsee te reis.

Die nasionale liggaam sê selfs al verslap die regering regulasies en word internasionale reise weer toegelaat, sal hy self eers die plaaslike situasie in oënskou neem, asook die stand van sake (rakende Covid-19) in die land waarheen die atleet wil reis voordat hy enige buitelandse deelname sal goedkeur.

“Ons wil lewens red,” het Skhosana by navraag gesê.

Ons moet weet wat die toestande oorsee is. So as ’n atleet byvoorbeeld na Italië wil gaan, hoe gaan ons weet dit is veilig waar hy bly?
Aleck Skhosana

“Ons moet weet wat die toestande oorsee is. So as ’n atleet byvoorbeeld na Italië wil gaan, hoe gaan ons weet dit is veilig waar hy bly? Ons moet weet dit is veilig waar hy deelneem, ons moet weet die lugdiens waarmee die atleet vlieg, is veilig en ons moet ook weet dat die atleet veilig kan terugkom.”

Benewens die feit dat die atlete toestemming by ASA sal moet kry, sal hulle nou ook ’n skrywe aan die regering moet rig voordat hulle mag reis.

“Voordat die atlete die land mag verlaat, sal hulle eers toestemming moet kry by ons en by die regering. Hulle is Suid-Afrikaanse burgers, so hulle is onderhewig aan ons regulasies,” sê Skhosana.

“Dit sluit individuele atlete ook in. As die atlete genooi word om oorsee te gaan deelneem, is daar steeds ’n prosedure wat gevolg moet word. Tans mag niemand landuit gaan nie, al is dit om oorsee deel te neem.”

Hy sê dit kan wel maklik verander.

“Dit kan selfs volgende maand verander. Alles hang van die situasie (rakende die Covid-19-pandemie) af.”

Waar ASA in sy verklaring ook gesê het dat hy atlete aanbeveel om net van privaat oefengeriewe gebruik te maak, sê Skhosana dat diegene wat in die oefengroep vir die Olimpiese Spele in Tokio in 2021 is, wel munisipale stadions kan nader om daar te oefen.

Akani Simbine, Suid-Afrika se vinnigste man, is een van talle atlete wat steeds hoopvol sal wees om by ’n paar internasionale byeenkomste in 2021 te hardloop. Foto: Gety Images

In dié stadium is die volgende byeenkoms in die Diamantliga-reeks op 9 Julie in Zürich, met dié byeenkoms wat herdoop is tot die “Inspirasie-Spele” en ’n verkorte formaat sal aanneem. Net 30 atlete sal toegelaat word om daaraan deel te neem en net agt items sal aangebied word.

Daarna verskuif die reeks na Monaco (14 Augustus) en Stockholm (23 Augustus), voordat Lausanne (Switserland), Gateshead (Engeland), Brussel (België), Rome (Italië) en Shanghai (China) na verwagting in September gasheer sal speel.

Volgens die sportagent en voormalige naelloper Lee-Roy Newton is die gesondheid van atlete hul prioriteit en sal sy kliënte by ASA en die regering se maatreëls hou.

“Die Diamantliga het voorgestelde datums, maar dit verander ook deurlopend, so niemand het sekerheid oor of dié byeenkomste wel sal plaasvind nie,” sê hy.

“Ons, net soos die res van die wêreld, kyk na wat die beste en natuurlik die veiligste vir die atlete is.”

Meer oor:  Aleck Skhosana  |  Auid-Afrika  |  Europa  |  Atletiek  |  Asa  |  Vereistes  |  Covid-19  |  Internasionale Byeenkomste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.