Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Sub-10-tyd vir Akani Simbine in China

Die Statebond-kampioen Akani Simbine het gister by die tweede been van die Diamantliga-reeks in Sjanghai die 100 m in minder as 10 sekondes afgenael. Dit was sy eerste wedloop in dié item vir die jaar.

Suid-Afrika het ’n moeilike dag op kantoor beleef, maar Simbine se derde plek en sy tyd van 9.95 sekondes in die 100 was een van die min ligpunte wat die reënboognasie rede kon gee om te glimlag.

Akani SimbineFoto: GALLO images

Simbine het wel taamlik ver agter sy Amerikaanse teenstanders en spoedvrate Noah Lyles en Christian Coleman geëindig. Albei was indrukwekkend en hulle het ook albei die wenstreep in 9.86 sek. oorgesteek, met Lyles wat naelskraap die eerste plek syne gemaak het. Dit was ook sy persoonlike beste tyd nadat hy sy vorige beste van 9.88 oortref het.

Twee van die VSA se ander blitse, Isiah Young (10.14) en Michael Rodgers (10.15), het egter teleurgestel en was net goed genoeg vir onderskeidelik die sewende en agtste plek.

’n Maagkiem het Suid-Afrika se wêreldkampioen Luvo Manyonga uit die verspring gehou, met die Paarliet Ruswahl Samaai wat in sy afwesigheid die derde plek behaal het met ’n afstand van 8,14 m.

Jamaika se Tajay Gayle was eerste met ’n goeie sprong van 8,24 m, met Wang Jianan van China wat naasbeste was met sy 8,16 m. Die ander Suid-Afrikaner Zarck Visser moes tevrede wees met die sesde plek met ’n afstand van 7,90 m.

Clarence Munyai het ook ’n derde plek behaal in die 200 m toe hy 20.37 sek. gehol het. Aaron Brown van Kanada was die vinnigste in 20.07, terwyl sy landgenoot Andre De Grasse tweede was in 20.21 sek.

Antonio Alkana het harde bene gekou in die 110 m-hekkies waar hy agtste klaargemaak het. Sy tyd van 13.47 was heelwat stadiger as dié van die wenner, Omar Mc­Leod van Jamaika, se 13.12 sek.

Dinge het ook nie klopdisselboom vir Sunette Viljoen in die spiesgooi verloop nie.

Dié voormalige Statebondkampioen het agtste uit die nege deelnemers geëindig en kon net ’n beste gooi van 57,56 m vermag.

Dit was heelwat korter as haar seisoenbeste van 61,22 m tot dusver vir 2019.

Huihui Lyu van China het die byeenkomsrekord van 66,85 m, wat sy in 2018 opgestel het, weer verbygesteek en dit dié keer tot 66,89 m verbeter.

Die 400 m-hekkies-sensasie Abderrahman Samba van Katar, wat deur Suid-Afrika se Hennie Kotze gebrei word, het die byeenkomsrekord in dié item aan flarde gehol.

Samba het die wenstreep in 47.27 sek. oorgesteek. Rai Benjamin van die VSA het tweede geëindig en ook die vorige rekord oortref in 47.80 sek.

Die vorige rekord van 48.63 sek. is in 2017 deur die Amerikaner Bershawn Jackson opgestel.

Meer oor:  Diamantliga-Reeks  |  Akani Simbine  |  Sjanghai  |  10 Sekondes  |  Statebond-Kampioen  |  100 M
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.