Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Sunette droom steeds van Spele-goud
Sunette Viljoen by die Wêreldkampioenskap in 2019 in Doha in aksie. Foto: Getty Images

Sy is wel 36 jaar oud, maar Sunette Viljoen glo steeds dat sy Olimpiese glorie in die spiesgooi kan smaak.

Viljoen, wat haar persoonlike beste afstand van 69,35 m in 2012 behaal het, is daarvan oortuig dat sy tot ’n poging van 70 m in staat is en dat volgende jaar se Spele in Tokio die beste tyd is vir alles om reg te verloop.

“Ek sal volgende jaar 38 wees. Ek word gereeld gevra waarom ek nie uittree as ’n beroepsatleet nie aangesien ek basies alles bereik het wat ek wou,” het die voormalige Tuks-atleet luidens ’n verklaring van TuksSport gesê.

“Vir my is jou ouderdom irrelevant. Ek weet wat ek weet.”

Sy het silwer gewen by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro in 2016 en ook by die Wêreldkampioenskap in Daegoe, Suid-Korea in 2011. By die Wêreldkampioenskap in Beijing in 2015 het sy brons gewen en dan spog Viljoen boonop ook met vier Statebond-medaljes (twee goues, een silwer en een brons).

Sedert ek die eerste keer ’n spies gegooi het, was my doelwit om ’n Olimpiese kampioen te word.
Sunette Viljoen

Dit is egter daardie ontwykende goue medalje by die Olimpiese Spele wat as Viljoen se dryfkrag dien.

“Sedert ek die eerste keer ’n spies gegooi het, was my doelwit om ’n Olimpiese kampioen te word,” sê sy.

“Ek glo steeds dit is moontlik. Ek weet ek het nog nie daardie groot een gegooi nie. Daardie een wat oor 70 m trek.”

Viljoen, wat op 6 Oktober verjaar, sê sy is nog nie gereed om atletiek te groet nie.

“Ek sal weet wanneer daardie vlam om die beste te wees uitgebrand het.”

Die Covid-19-pandemie het haar toegelaat om volkome te herstel van ’n rugbesering, wat al lank kwel. Nou wil sy, buiten vir die Tokio-Spele, ook in 2022 medaljes verower by die Wêreldkampioenskap in Oregon, asook by die Statebondspele in Birmingham.

Daarna oorweeg sy om die spies permanent weg te pak en haar aandag weer op krieket te vestig, ’n sport waarin sy 17 eendagwedstryde en ’n toets vir Suid-Afrika gespeel het.

Viljoen het onlangs na Stellenbosch verhuis waar sy ’n afrigter by die Hoër Meisieskool Bloemhof is. Sy het haar eie atletiek-akademie gestig, terwyl sy boonop tussendeur ook aan haar eie tegniek skaaf in die aanloop tot volgende jaar se skouspel in Japan.

Die akademie se doelwit is om kinders tussen die ouderdom van ses en tien touwys te maak oor belangrike vaardighede wat hulle benodig indien hulle hul merk in dié sport wil maak.

Ek wil werklik ’n verskil in kinders se lewens maak. Dit is my passie.
Sunette Viljoen

“Ek wil werklik ’n verskil in kinders se lewens maak. Dit is my passie. Daarom is ek ook van plan om na sukkelende gemeenskappe in die Wes-Kaap te gaan en tyd saam met die kinders deur te bring,” sê Viljoen.

“Ons sal dinge doen soos om balle te skop, raakrugby speel, hardloop en spring. Vir daardie uur of wat moet die kinders van alles anders kan vergeet. Dit gaan my ook laat ontspan. Ek is immers ’n kind in ’n volwassene se lyf.”

Viljoen sê die doel van die interaksie met die kinders is om hulle aan te moedig om hard te werk vir dit wat hulle wil bereik.

“Sukses gebeur nie net nie. Jy moet daarvoor werk,” het sy bygevoeg. – Sportredaksie

Meer oor:  Sunette Viljoen  |  Stellenbosch  |  Afrigting  |  Olimpiese Droom  |  Atletiek  |  Spiesgooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.