Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Tieners in kollig by Diamantliga in Oslo

Die tiener en Sweedse paalspringsensasie Armand Duplantis sal Donderdag die groot trekpleister wees by die Diamantliga-byeenkoms in Oslo in Noorweë.

Armand Duplantis van Swede sal een van die atlete wees om dop te hou in Oslo. Foto: Getty Images

Die 19-jarige het in 2015 op die internasionale toneel deurgebreek toe hy as die o.18-wêreldkampioen gekroon is en was boonop in 2018 die voorste atleet in die wêreld in die paalspring.

Hy het verlede jaar oor die dwarslat geseil op ’n hoogte van 6,05 m, wat hom onder die voorste vyf atlete in dié item in die geskiedenis laat tel.

Drie ander atlete, die Olimpiese silwermedaljewenner in 2016, Renaud Lavillenie van Frankryk, Dmitri Markov van Australië en Maskim Tarasov van Rusland het op dieselfde hoogte geslaag.

Net die Oekraïne se paalspringlegende, Sergey Bubka, is al oor hoër in die buitelug.

Sydney McLaughlin van die VSA kan ’n bedreiging in die 400 m-hekkies wees. Foto: Getty Images

Bubka was die wêreldkampioen in 1983, 1987, 1991, 1993, 1995 en 1997 en het die buitemuurse wêreldrekord nie minder nie as 17 keer verbeter.

Sy beste van 6,14 m is in 1994 opgestel en hoewel die Fransman, Lavillenie, se wêreldrekord van 6,16 m hoër is en deur die IAAF as die amptelike binnenshuise en buitemuurse wêreldrekord erken word, is dit tydens ’n binnenshuise byeenkoms in 2014 behaal.

Die IAAF het in 2000 beslis dat rekords in dié nommer geldig is al word dit binnenshuis vermag.

Duplantis sal in Oslo onder meer teen Sam Kendricks van die VSA, die Olimpiese bronsmedaljewenner in Rio de Janeiro en ook die verdedigende wêreldkampioen, te staan kom.

Die Sweed het vanjaar reeds oor ’n hoogte van 6,00 m geseil, met Kendricks wat ’n beste van 5,91 m sover in 2019 agter sy naam het.

Die vroue se 400 m-hekkies hoort ook vir vuurwerk te sorg.

Die Amerikaanse blits Sydney McLaughlin sal een wees om dop te hou.

McLaughlin (19) het in 2018 die junior wêreldrekord in dié nommer in 52.75 sekondes opgestel, die negende vinnigste tyd in die geskiedenis.

Sy word ook as een van die name beskou wat die vaandel by die huidige Amerikaanse Olimpiese kampioen, Dalilah Muhammad, kan oorneem, wat op ouderdom 29 na die einde van haar loopbaan toe staan.

Hulle sal Donderdag teen mekaar te staan kom met twee ander Amerikaners, Shamier Little en Kori Carter, wat ook kan beïndruk.

Die Olimpiese kampioen in die spiesgooi, Thomas Röhler, sal ook sy staal wil wys. Hy kom teen sy landgenoot en 2017 wêreldkampioen, Johannes Vetter, te staan.

Dié twee tel onder voorste vyf spiesgooiers van alle tye.

Röhler spog met ’n beste afstand van 93,90 m, terwyl Vetter die maatband al tot 94,44 m laat strek het.

Die mans se 100 m behoort ’n stryd tussen die VSA se duo van Christian Coleman en Michael Rodgers, sowel as Brittanje se Reece Prescod te wees.

Coleman het vanjaar al 9.86 sek. gehol, terwyl Prescod ’n 9.97 agter sy naam het.

Geen Suid-Afrikaners sal in Oslo in aksie wees nie.

* Die byeenkoms word vanaf 20:00 regstreeks op Supersport 5 uitgesaai.

Meer oor:  Armand Duplantis  |  Oslo  |  Diamantliga-Byeenkoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.