Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Tienersensasie beïndruk tot Železný met sy gooi

Die jong spiesgooier Armand Willemse het Dinsdag weer atletiekkringe aan die gons gehad toe hy dié slag nog 28 cm by sy vorige beste poging gevoeg het in ’n kompetisie vir o.18’s.

Willemse het twee weke gelede, in sy eerste byeenkoms van die seisoen, ’n nuwe persoonlike beste afstand van 74,67 m in Potchefstroom behaal.

Die spiesgooi-wêreldrekordhouer, Jan Železný, in aksie in Parys in 2003. Foto: Getty Images

Hy het vandeesweek sy terugkeer tot die Kenneth McArthur-stadion gemaak en nou spog die seun van Chaka Willemse, voormalige hoofafrigter van die Luiperds-rugbyspan, met ’n nuwe beste gooi van 74,95 m . . . en hy is nog nie eens 17 jaar oud nie.

Terseus Liebenberg, wat al ’n wêreldkampioen (Marius Corbett) én ’n Olimpiese silwermedaljewenner (Sunette Viljoen) afgerig het, is een van die kenners wat nie oor dié jongeling se vermoëns uitgepraat kan raak nie.

“Dit is eerstens ’n ongelooflike prestasie. Hy is ’n groot seun, maar ontwikkel so pragtig in die regte proporsies. Die krediet moet aan sy pa gaan, wat baie mooi na hom kyk,” het Liebenberg by navraag gesê.

Willemse staan reeds 1,94 m in sy sokkies en laat die skaal op 95 kg kreun.

“Chaka is ’n uitstekende afrigter. Hy was self ’n baie goeie spiesgooier as ’n junior atleet. Dit is kundigheid en wysheid wat só noodsaaklik is vir topprestasies. Hulle is ’n ongelooflike span,” sê Liebenberg verder.

“Sy tegniek is nog besig om te ontwikkel. Hy moet nog gewoond raak aan ritme. Sy pa doen alles perfek, maar Armand gaan nog baie ontwikkel rakende sy ritmewerk. Dit is wanneer al dié dinge in plek val dat hy werklik sy merk gaan maak.”

Terseus Liebenberg hou die spiesgooi by 2017 se Wêreldkampioenskap in Londen dop. Foto: Gallo Images

Willemse sou boonop inspirasie geput het uit ’n besonderse toeskouer, wat hom noukeurig dopgehou het. Dit was niemand anders nie as Jan Železný, die wêreldrekordhouer wat by die Olimpiese Spele in 1992, 1996 en 2000 goud gewen het.

“Železný was ook daar en was net so ingenome met hom,” sê Liebenberg.

“Hy het by verskeie geleenthede opmerkings gemaak oor Armand se gooie. Armand het desondanks geen teken daarvan getoon dat hy deur die teenwoordigheid van dié beroemde spiesgooier ontsenu is nie.”

Hy het net die regte temperament, sê Liebenberg.

“Al wil ’n mens nie die wa voor die perde span nie, kom hier heel moontlik ’n volgende jeugkampioen, wat verder as 80 m kan gooi.”

Die Tsjeg, wat ook in 1993, 1995 en 2001 die wêreldkampioen was, het in die verlede al na die spiesgooitalent in Potchefstroom kom kyk tydens sy besoeke aan oefenkampe in Suid-Afrika.

“Železný was eintlik daar om op sy eie atlete te fokus, maar die buitelanders was bekoor deur Armand en het selfs spontaan vir hom hande geklap,” sê Liebenberg.

Železný het in 1997 in Stellenbosch vyf keer op ’n enkele byeenkoms die 90 m-merk oortref.

Nadat die spies se ontwerp in 1986 aangepas is, het hy die wêreldrekord in 1996 met sy yslike gooi van 98,48 m opgestel.

Die naaste wat enige ander persoon nog hieraan kon kom, was toe die Duitser Johannes Vetter verlede jaar met ’n poging van 97,76 m losgetrek het.

Meer oor:  Atletiek  |  Skoleatletiek  |  Spiesgooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.