
’n Foto wat verlede Vrydag vanuit ’n nuushelikopter geneem is, wys ligte word ingespan om die gras van die Nasionale Stadion vinniger te laat groei. Foto: Getty Images
Bouwerk aan die Nasionale Stadion in Tokio, Japan, is voltooi. Dit gaan die hoofsentrum van volgende jaar se Olimpiese Spele wees.
Die Japanse Sportraad sê die laaste werk is verlede Donderdag afgehandel. Nog net die laaste gehalte- en veiligheidstoetse moet gedoen word voordat die stadion volgende maand sy hekke kan oopmaak.
Die stadion sal op 21 Desember amptelik ingewy word. Die eindstryd van die Emperor’s Cup-sokkertoernooi op Nuwejaarsdag sal die eerste sportbyeenkoms wees wat daar gehou word.
Die boukoste het meer as $1,25 miljard (R18,4 miljard) beloop. Die stadion kan 60 000 mense huisves en die Spele se atletiekbyeenkoms en sokkertoernooi sal daar aangebied word.
Bouwerk het in Desember 2016 begin, sowat 14 maande later as wat beplan is. Die oorspronklike ontwerp is geskrap nadat inwoners beswaar aangeteken het oor buitensporige koste.
Weens die vertraging kon rugbywedstryde in die afgelope Wêreldbeker-toernooi nie daar gespeel word nie.
Die Nasionale Stadion is een van agt nuwe stadions wat vir die Spele gebou is. Almal is reeds voltooi of volgens skedule.
Die Spele duur van 24 Julie tot 9 Augustus.
Die Paralimpiese Spele sal op 25 Augustus begin.

Die binnekant van Tokio se Nasionale Stadion. Foto: Getty Images
– Reuters