Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Tshepo wen 800 m-brons in Frankryk

Suid-Afrika se Tshepo Tshite het Woensdagaand in Liévin, Frankryk in die sesde ronde van Wêreldatletiek se binnenshuise reeks uitgeblink.

Tshepo Tshite hardloop verlede jaar in die 800 m-halfeinronde op die Wêreldkampioenskappe in Doha. Foto: Gallo Images

Tshite het in die 800 m ’n bronsmedalje gewen op die Hauts-de-France Pas-de-Calais-byeenkoms, waar hy die wenstreep in 1 minuut, 47.75 sekondes oorgesteek het.

Hy is geklop deur die twee Keniane, Collins Kipruto en Cornelius Tuwei, wat die wedloop in onderskeidelik 1:46.34 en 1:46.74 voltooi het.

Kipruto is ná vyf internasionale binnenshuise byeenkomste in 2020 steeds onoorwonne in die 800 m en beklee tans die vierde plek op die wêreldranglys.

Die 23-jarige Tshite, wat van Rustenburg afkomstig is waar hy deur sy suster grootgemaak is, was die enigste Suid-Afrikaner wat in Liévin in aksie was.

Hy het verlede jaar tot die halfeindronde van die 800 m in Wêreldkampioenskappe in Doha gevorder, waar hy uiteindelik algeheel ’n 15de plek behaal het.

Die Sweedse paalspring-sensasie Armand Duplantis, wat twee weke in ’n ry die wêreldrekord dié nommer verbeter het, kon nie ’n derde keer weer daarin slaag nie.

Hy het nietemin steeds met die louere weggestap nadat hy op ’n hoogte van 6,07 m oor die dwarslat geseil het.

Die Amerikaner en tweemalige wêreldkampioen Sam Kendricks was met 5,90 m die tweede keer in soveel weke naasbeste.

Pierre-Ambroise Bosse, wat in 2017 die 800 m-wêreldkampioen was, het sy slag in die 1 000 m gewys en naelskraap die Brit Andrew Osagie om die goue medalje geklop.

Die Fransman het die wenstreep in 2:19.26 oorgesteek, met Osagie ’n kortkop agter hom in 2:19:31.

Die 2018-binnenshuise wêreldkampioen in die 1 500 m, Samuel Tefera van Ethiopië, het sy voorkeurnommer in 3:35.54 – die beste tyd in 2020 – gewen.

Jesús Gómez van Spanje het in 3:36.68 vir sy silwermedalje meer as ’n sekonde ná Tefera klaargemaak.

Die laaste ronde van die wêreldreeks vind Vrydag in Madrid, Spanje, plaas.

Die Wêreld- binnenshuise kampioenskappe sou oorspronklik daarna van 13 Maart tot 15 Maart in Nanjing, China aangebied geword het, maar is weens die uitbreek van die Covid-19-virus (die nuwe koronavirus) tot 19 Maart 2021 uitgestel.

Meer oor:  Atletiek  |  Wêreldatletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.