Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Twee Oseane-kinkel: Keniane bly rekord jag

Die roete is oornag verander weens moontlike politieke onrus, maar die Keniaanse atlete gaan voort met hul planne om Saterdag Thompson Magawana se 31 jaar oue rekord in die Twee Oseane-wedloop oor 56 km in die Kaap te oortref.

Die organiseerders het laat Donderdagaand in oorleg met onder meer die polisie, verkeerspolisie, die nooddienste, die Wes-Kaapse regering en die Kaapse metroraad besluit om die roete te verander ter wille van die veiligheid van die meer as 10 000 atlete wat aan die 50ste Twee Oseane-wedloop deelneem.

Justin Kemboi Chesire wen verlede jaar die Twee Oseane-wedloop. Foto: Gallo Images

Magawana het sy rekord van 3 uur, 3 minute en 44 sekondes in 1988 op die tradisionele roete oor Chapmanspiek, Houtbaai en Constantianek opgestel.

Onluste en geweldpleging het die laaste ruk in die omgewing van Houtbaai voorgekom.

Die atlete sal nou oor Ou Kaapse Weg en Silwermyn hardloop op pad na die eindpunt by die Universiteit van Kaapstad.

Dié roete is ’n paar jaar gelede gebruik toe die Chapmanspiek-pad ná rotsstortings noodgewonge gesluit moes word.

Die aanslag sal nou bloot op die byeenkomsrekord wees en nie op die roeterekord nie, sê Craig Fry, wat die span Keniane namens die Nedbank-span bestuur.

“Die aankondiging verander nie veel aan ons planne nie. Ons sal wel hier en daar veranderinge aan die taktiek aanbring.

“Die een voordeel is dat die moeilike deel van die roete nou aansienlik vroeër (op Ou Kaapse Weg ná sowat 25 km se hardloop) is as wat dit sou wees op die roete via Chapmanspiek en Houtbaai,” het Fry Vrydagoggend gesê.

Die groep Keniane, wat onder andere Justin Kemboi Chesire, verlede jaar se wenner (03:09:21), en die haastige Abraham Kiprotich insluit, het hulle sedert November hoog bo seevlak in hul geboorteland voorberei. Hul taktiek is in die fynste besonderhede uitgewerk, het Fry Donderdag op ’n mediakonferensie gesê.

Om Magawana se rekord te oortref, sal die atlete Saterdagoggend in tussen 2:14 en 2:15 verby die marathon-kerf moet hardloop, sê die voormalige Comrades-kampioen Nick Bester, spanbestuurder van die Nedbankspan.

Fry glo Magawana se rekord kan oortref word as die weer Saterdag saamspeel.

Die Keniane sal as ’n span saamwerk om die beloning van R1 miljoen vir die rekord te probeer loshardloop.

David Gatebe, die kampioen van 2013 en Comrades-wenner in 2016, kan die groot buiteperd wees.

* Die wedloop sal nie vanjaar op televisie uitgesaai word nie, maar wel regstreeks op die internet. Hou Netwerk24 se regstreekse dekking van die wedloop Saterdag dop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.