Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Tyd vir Munyai om krane oop te draai

Suid-Afrika se Clarence Munyai sal Saterdag ’n goeie aanduiding kry van hoe hy teen sy teenstanders gaan opweeg by die Wêreldkampioenskap wat oor net meer as ’n maand in Doha, Katar, gehou word.

Hy sal in die 200 m aantree in Parys by die laaste Diamantliga-byeenkoms voor die eindrondes in Zürich en Brussel.

Clarence Munyai sal Saterdag in Parys uitvind of hy vanjaar by die wêreld se vinnigste 200 m-atlete kan byhou. Foto: Gallo Images

Hy is die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 200 nadat hy verlede jaar ’n verstommende tyd van 19.69 sekondes in Pretoria gehardloop het.

Sedertdien het beserings hom egter opgekeil en het hy gesukkel om blitstye te hardloop. Munyai beklee vanjaar maar die 14de plek op die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies se wêreldranglys, met ’n vinnigste tyd van 20.04. Hy het dit verlede maand in Heusden-Zolder, België, aangeteken.

Stadig maar seker is hy egter besig om die peil te herwin wat van hom een van die voorste jong opkomende atlete in die wêreld gemaak het die afgelope twee jaar.

In Junie het hy ’n 20.31 in Ostrava (gehardloop), nadat hy in Mei in Sjanghai ook die wenstreep in 20.37 oorgesteek het.

Die naweek kom hy teen die VSA se Noah Lyles te staan, wat in Julie die agtste vinnigste tyd in die geskiedenis gehardloop (19.50) het. Hy is tans die wêreld se voorste atleet in die 200.

Die 2017-wêreldkampioen, Ramil Guliyev van Turkye, sal ook langs hom in die blokke sak, terwyl Nigerië se Divine Oduduru, wat met die derde vinnigste tyd in 2019 spog (19.73), ook onder die deelnemers tel.

Alex Quinonez van Ecuador lê tans in die vyfde plek nadat hy verlede maand ’n persoonlike beste tyd van 19.87 in Lausanne in Switserland opgestel het.

Die kans is goed dat die meeste van dié name, indien nie almal nie, ook by die Wêreldkampioenskap in aksie sal wees.

Munyai sal wel selfvertroue put daaruit dat hy die voorste tyd in die wêreld in die 300 (’n nommer wat selde aangebied word) gehardloop het, toe hy in België op 17 Julie die wenstreep in 32.45 oorgesteek het.

Dié tyd is wel sedertdien verbeter deur Indië se Muhammed Yahiya, wat verlede week in Tsjeggië in 32.41 baas was.

Munyai het in 2017 die junior wêreldrekord in dié nommer opgestel in 31.61. Dit was dieselfde dag wat Wayde van Niekerk die wêreldrekord vir seniors verbeter het tot 30.81.

Hy sal boonop in Katar ’n verdere bron van motivering hê. Hy is in 2017 in Londen ná die 200-uitdunne gediskwalifiseer, omdat hy uit sy baan getrap het. Dit het hom van ’n plek in die halfeindronde ontneem.

* Die Diamantliga-byeenkoms in Parys kan Saterdagaand vanaf 20:00 regstreeks op SuperSport 8 gekyk word.

Munyai sal 20:57 (SA tyd) in die blokke sak.

Meer oor:  Atletiek  |  Iaaf  |  Diamantliga  |  Clarence Munyai  |  Asa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.