Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Wayde baas in eerste oorsese wedloop

Wayde van Niekerk is Dinsdagaand sommer deeglik beproef in sy eerste internasionale wedloop in drie jaar toe hy diep moes delf om met die louere weg te stap in Switserland.

Die Olimpiese kampioen het die 400 m gewen in 45.58 sekondes nadat hy uiters stadig uit die blokke was en ná sowat 150 m gelyk het of hy swaar trek.

In daardie stadium het drie van sy teenstanders gedreig om sy terugkeer te bederf, maar in die pylvak by die Gala dei Castelli-byeenkoms in Bellinzona het hy sy klas en fiksheid ten toon gestel om verby almal te storm vir sy eerste plek.

Jochem Dobber van Nederland was naasbeste in 45.78 met Karol Zalewski van Pole derde in 46.03.

Van Niekerk, wat in baan 4 weggespring het, is met groot applous deur die toeskouers verwelkom en het koelkop gelyk toe hy in die blokke sak.

Hy sal verlig wees om ’n regmerkie by dié boksie te kon maak op die “Brons-byeenkoms” wat deel van Wêreldatletiek se kontinentale reeks is.

Akani Simbine het dit vier uit vier gemaak in Europa nadat hy die 100 m gewen het in 10.02 sekondes, sy vinnigste tyd sedert Maart. Filippo Tortu van Italië het silwer gewen in 10.07.

Ruswahl Samaai het ’n proesel gekry daarvan om voor te loop tot die voorlaaste ronde in die verspring, net om toe te moes toekyk hoe die Fin, Kristian Pulli, skielik ’n haas uit die hoed pluk en met sy sprong van 8,08 m die oorwinning beklink.

Samaai het in die tweede ronde 8,02 m gespring en dit met sy beste poging van 8,04 m opgevolg.

Sy oorblywende drie spronge was egter almal onwettig, maar hy het steeds silwer verower.

Hy sal wel selfvertroue put uit die feit dat hy met die huidige wêreldkampioen, Tajay Gayle van Jamaika (7,99 m), afgereken het.

Antonio Alkana het die regte woema gehad in sy beste wedloop van die seisoen in die 110 m-hekkies, waar hy brons gewen het in 13.40 sekondes. Aaron Mallet van die VSA het geseëvier in 13.34.

Wayde van Niekerk. Foto: Getty Images

Van Niekerk sal nou terugkeer na Suid-Afrika waar die fokus sal skuif na sy voorbereiding vir die Tokio-Spele, wat op 23 Julie 2021 begin.

Simbine en Alkana sal min rustyd hê met albei van hulle wat Donderdag op die Diamantliga-byeenkoms in Rome weer sal deelneem.

Van Niekerk se aanslag om sy 400 m-titel te verdedig sal volgende jaar op 1 Augustus begin met die uitdunne van dié nommer wat tydens die oggendsessie gehou sal word.

Die Vrystater het Dinsdagaand aan sy eerste wedloop oorsee deelgeneem sedert hy op 10 Augustus 2017 die silwermedalje in die 200 m op die Wêreldkampioenskap in Londen gewen het, twee dae nadat hy goud in die 400 m gevat het.

Hy het op 7 Oktober 2017 in ’n vriendskaplike raakrugbywedstryd op Nuweland sy knieligamente geskeur tydens ’n vertoonwedstryd voor die toets tussen die Springbokke en die All Blacks.

Die wêreldrekordhouer in die 400 het toe die hele 2018 uitgesit terwyl hy rehabilitasie ondergaan het. Hy kon gevolglik nie die Statebondspele in Australië se Goudkus bywoon nie.

In 2019 het hy ’n kortstondige terugkeer gemaak op die Vrystaatse atletiekkampioenskap, voordat hy weer lank op die kantlyn was en die Wêreldkampioenskap in Doha misgeloop het. Steven Gardiner van die Bahamas is toe as die nuwe 400 m-wêreldkampioen gekroon.

In Februarie het hy die water getoets op ’n klein nie-amptelike Kovsie-byeenkoms, waar hy aan die 100 en 200 deelgeneem het met handtyd wat gebruik is.

Daarna het hy weer op die Vrystaatse kampioenskap sy slag gewys, voordat die Covid-19-pandemie en die daaropvolgende inperking hom weer lank verhoed het om deel te neem.

Nadat die inperkingsmaatreëls verslap is, kon Van Niekerk in Julie by sy Europese oefenbasis in Gemona, Italië aansluit waar die Suid-Afrikaner uiteindelik ’n spul byeenkomste wou inwerk.

Dié planne is ook in die wiele gery toe hy op die vooraand van sy terugkeer vermoedelik ’n vals positiewe toets vir Covid-19 gelewer het.

Van Niekerk is toe in isolasie geplaas waartydens hy glad nie kon oefen nie.

Hy het eers op 14 Augustus weer met sy voorbereiding voortgegaan met die wedloop in Switserland wat eindelik sy eerste en laaste van die hele Europese atletiekseisoen was.

Meer oor:  Atletiek  |  Wayde Van Niekerk  |  Brons-Byeenkoms  |  400 M  |  Kontinentale Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.