Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Vergrootglas op dié Nike-hardloopskoene

Is Nike se Vaporfly-skoene net ’n weergawe van opkikkers vir atlete se voete?

Brigid Kosgei het Sondag die marathon-wêreldrekord gebreek in Nike se Vaporfly-skoene. Foto: Reuters

Dít is ’n debat wat soos ’n veldbrand deur atletiekkringe versprei het nadat twee geskiedkundige uitslae verlede naweek binne ’n dag van mekaar deur Keniane in die marathon behaal is.

Vrae oor dié skoene het tot die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) genoop om te reageer en ondersoek in te stel na bewerings dat onlangse uitslae van atlete met dié skoene drasties verbeter het.

’n Groot besprekingspunt is die feit dat Dennis Kimetto van Kenia se wêreldrekord van 2:02:57 in die marathon, wat hy in 2014 behaal het, tussen 2018 en 2019 al vyf keer verbeter is.

Elke keer dat Kimetto se tyd oortref is, het die atleet wat dit reggekry het, Nike se Vaporfly-skoene, wat in 2016 bekend gestel is, gedra.

Die vyf wêreldrekords wat Kimetto voorafgaan het, is in ’n tydperk tussen 2003 en 2013 vermag.

Die rekord staan agter die Keniaan Eliud Kipchoge se naam. Hy het in 2018 in 2:01:39 die wenstreep oorgesteek by die Berlyn-marathon. In 2019 alleen het die Ethiopiërs Kenenisa Bekele (2:01:41), Birhanu Legesse (2:02:48) en Mosinet Geremew (2:02:55), sowel as Kipchoge (2:02:37) vinniger as die vorige wêreldrekord gehardloop in amptelike wedlope.

Kipchoge het Saterdag in Wene in gefabriseerde toestande ook ’n spesiale nuwe prototipe van die Vaporfly-skoen gedra toe hy die eerste mens geword het wat deur die twee-uur-grens breek. Brigid Kosgei het boonop ook Nike se Vaporfly-skoene gedra toe sy Sondag by die Chicago-marathon die wêreldrekord vir vroue tot 2:14:04 verbeter het.

Die Vaporfly-skoene het koolstofvesel in wat in ’n skuim gesit is in die sool. Die idee agter die ontwerp is dat atlete minder energie hoef te benut om vorentoe te beweeg.

Die sportwetenskaplike Ross Tucker het op Twitter geskryf die beter vertonings is 'n uitvloeisel daarvan.

So jy verloor nie energie nie – dink aan ’n rubberbal wat hop eerder as ’n muurbal bal.
Ross Tucker

“Die kombinasie van die skuim en die plaat veroorsaak dat minder energie verlore gaan,” het Tucker geskryf.

“Só jy verloor nie energie nie – dink aan ’n rubberbal wat hop eerder as ’n muurbal-bal.”

Die Suid-Afrikaanse langasem Irvette van Zyl dra dieselfde skoene as dié waarmee Kosgei gehardloop het en meen die bohaai word uit verband geruk.

“Die skoene wat jy dra, gaan jou net tot op ’n punt help,” het Van Zyl gesê.

“Oor ’n afstand soos die marathon is daar so baie ander faktore wat ook in ag geneem moet word. Is die weersomstandighede reg, skaaf jou broek jou terwyl jy hardloop, sit jou sokkies reg, gebruik jy die regte vloeistowwe?”

Sy meen dit is eerder ’n geval van twee uitsonderlike atlete wat hul talent ten volle uitgestal het.

“Hulle albei moes steeds die oefening insit. Op ’n dag dat dinge nie uitwerk nie, gaan die skoene jou niks help nie.

Op ’n dag wat dinge nie uitwerk nie gaan die skoene jou niks help nie.
Irvette van Zyl

“Hul uitslae was ongelooflik, ongeag die skoene wat hulle gedra het. Ek dink baie atlete is geïnspireer deur Kipchoge, wat nog nooit sy hardloopstyl verander het nie, ongeag watter skoene hy ook al gedra het.

“Mo Farah het ook in Chicago met dieselfde skoene (as Kosgei) gehardloop en ’n slegte dag beleef.”

Van Zyl voeg by dat die skoen baie algemeen geraak het onder langafstandatlete, maar dat hul hardloopstyl ook ’n groot rol speel.

Die British Journal of Sport Medicine het Maandag ’n voorstel geplaas waarin Geofrrey Burns, wat die marathon al in 2:24:58 voltooi het, sê dat die IAAF ’n enkele standaard behoort in te stel vir hoe dik hardloopskoene se middelsool mag wees.

Soos sake tans staan, is die IAAF se enigste vereiste dat hardloopskoene nie ’n “onregverdige voordeel” mag gee nie en maklik bekombaar moet wees. Daar is geen uiteensetting van wat as ’n “onregverdige voordeel” beskou word nie.

Burns, wat besig is met ’n doktorsgraad in biomeganika aan die Universiteit van Michigan, skryf dat die voordeel wat skoene inhou verder en aansienlik meer bevorder het as enige ander vorige skoen.

Meer oor:  Irvette Van Zyl  |  Brigid Kosgei  |  Nike  |  Padwedlope  |  Ross Tucker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.