Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Verster: ‘Caster kán uitblink in 3 000 en 5 000’

Moenie nou al Caster Semenya se kanse afskryf om ’n wêreldklas-atleet in die langer afstande te word nie.

Caster Semenya in April op pad na haar goue medalje in die 5 000 in die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in Germiston. Foto: Gallo Images

Só sê die voormalige breier van die tweemalige Olimpiese kampioen in die 800 m, Jean Verster, wat glo die Suid-Afrikaner kan wel haar kleim in die 3 000, sowel as die 5 000 afsteek.

Semenya sal op 30 Junie in die Diamantliga se Prefontaine Classic-byeenkoms in Stanford in Kalifornië in die 3 000 aantree.

Dit sal haar eerste wedloop wees nadat sy in April haar saak teen die IAAF by die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) verloor het.

Sy en ander vroueatlete wat natuurlike hoë testosteroonvlakke het, mag dus nie meer aan die 400 m, 400 m-hekkies, 800 m, 1 500 m en myl deelneem sonder dat hulle medikasie gebruik om hul testosteroonvlakke te verlaag nie.

Verster glo egter dat Semenya wel ’n faktor kan wees in die 3 000 m en 5 000 m – twee nommers wat nie deur die nuwe regulasies geraak word nie.

“Die belangrikste om te onthou is dat die 3 000 nie ’n kampioenskapnommer is wanneer dit by die byeenkomste soos die Olimpiese Spele kom nie, en daar is ’n hengse verskil tussen die 3 000 en die 5 000, wat wel ’n Olimpiese nommer is,” het Verster Woensdag by navraag gesê.

“Ek glo nie dit is onmoontlik om van ’n 800 na ’n 3 000 oor te skakel nie, die moeilikste sal egter die 5 000 wees.”

Ek glo nie dit is onmoontlik om van ’n 800 na ’n 3 000 oor te skakel nie, die moeilikste sal egter die 5 000 wees.
Jean Verster

Semenya is verlede maand in Germiston in ’n tyd van 16:05.97 as die Suid-Afrikaanse kampioen in die 5 000 gekroon. Sy het laas in 2017 in Potchefstroom aan die 3 000 deelgeneem, waar sy die wenstreep in 9:36.29 oorgesteek het.

Verster glo dat ofskoon haar tye nie wonderlik is in dié nommers nie, het sy nog nie voorheen daarin probeer spesialiseer nie.

“Daar is ’n paar faktore wat met betrekking tot haar sege in Germiston in ag geneem moet word. Eerstens het sy gehardloop teen Dominique Scott-Efurd, wat ’n Olimpiese atleet in die 5 000 is, en haar geklop.

“Germiston is ook die baan in Suid-Afrika wat die hoogste bo seevlak geleë is. Dít alleen kan tot 30 sekondes by haar tyd voeg. Sy is ook nie gewoond aan die 5 000 nie en sal takties nog verbeter en dan is sy maklik nog 30 sekondes vinniger.”

Verster, wat glo dat Semenya in Kalifornië die 3 000 gaan doen as deel van haar oorskakeling na die 5 000, sê dat die oefeninge waaraan sy gewoond is om vir die 800 voor te berei, sal heelwat aangepas moet word.

“Daar is baie kondisioneringsverskille tussen ’n 800 en die langer afstande,” sê hy.

Jean Verster, Caster Semenya se voormalige afrigter en op sy dag ook ’n top-middelafstand-atleet. Foto: Argief

“Jou krag en uithouvermoë verskil, maar dis alles dinge wat jy relatief maklik in jou program kan aanpas. Ek glo in ’n 5 000 is die moeilikste faktor jou ingesteldheid.”

Dan is daar ook ’n groot sprong van die 3 000 na die 5 000.

“Takties is daar groot verskille tussen ’n 3 000 en ’n 5 000. Atlete soos Genzebe Dibaba sal byvoorbeeld die eerste kilometer in 3:18 aflê, wat nogal stadig is, maar dan versnel sy tot 2:50 in die volgende kilometer en daarna 2:40.

“Wat die fisieke aspekte betref, glo ek Caster kan dit doen. Sy was nog altyd baie sterk en het nog altyd in haar oefeninge baie op krag en uithouvermoë gefokus. Ek kan egter nie nou al sê of sy op dieselfde vlak as die wêreld se bestes in die langer afstande is nie.”

Verster meen die enigste manier om te weet of sy wel suksesvol kan oorskakel, is deur asem op te hou en te kyk hoe sy in Kalifornië en in die toekoms gaan vaar.

“Ek dink sy kan dit doen, maar dit sal sonder twyfel interessant wees om haar dop te hou.

Sy moet nou self kyk wat dit gaan neem om op internasionale vlak op daardie afstande mee te ding.
Jean Verster

“Sy moet nou self kyk wat dit gaan neem om op internasionale vlak op daardie afstande mee te ding.”

Altesaam 12 van die 16 deelnemers teen wie sy in Kalifornië gaan aantree, spog met beste tye wat vinniger as 9 minute in die 3 000 is.

Onder hulle tel Sifan Hassan van Nederland, wat in 2018 die voorste atleet in dié nommer was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.