Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Visser en Cremona skitter in Bloemfontein

Die Universiteit van Johannesburg se verspringer Zarck Visser en gewigstoter Orazio Cremona was Saterdagaand twee van die groot uitblinkers by die eerste ronde van die Grand Prix-atletiekbyeenkoms wat in Bloemfontein gehou is.

Simon Magakwe (regs) klop Emile Erasmus (links) Saterdag in die 100 m. Foto: Mlungisi Louw

Visser het die 8 m-merk verbygesteek in die verspringput waar hy gewen het met ’n beste sprong van 8,13 m.

Sy naaste teenstander was Cheswill Johnson met 7,97 m.

Visser was verlede jaar, met ’n beste poging van 8,40 m agter sy naam, onder die voorste 10 atlete ter wêreld in dié item. Hy sal ongetwyfeld tevrede wees met sy poging so vroeg in die seisoen.

Cremona se poging van 20,19 m in die gewigstoot was genoeg vir die eerste plek.

Dit is ook goed genoeg vir die 21ste plek op die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) se wêreldranglys vir 2019, hoewel die meeste atlete nog moet begin deelneem.

Cremona het verlede jaar ’n beste van 20,71 m behaal.

Die jong Kayle Rademeyer, ook van UJ, het silwer ingepalm met 19,73 m en kruip al hoe nader aan die 20 m-merk met die 7,26 kg.

Die hardebaard Simon Magakwe van die Tygerberg-atletiekklub was vinnig uit die blokke om die 100 m te wen in 10.06 sekondes.

Emile Erasmus van Tuks was tweede in 10.15 sek.

Wat die vroue betref, het Tebogo Mamatu en Tamzin Thomas vir opwinding gesorg in die 100 m met net ’n breukdeel van ’n sekonde wat hulle van mekaar geskei het.

Mamatu het goud gevat in 11.44 en Thomas silwer in 11.45.

Ruan de Vries van Tuks sou heelwat positiewe aspekte neem uit sy oorwinning in die 110 m-hekkies waar hy sy aardsvyand Antonio Alkana ore aangesit het.

De Vries het die wenstreep eerste oorgesteek in 13.68, met Alkana wat gesamentlik derde was in 14.10.

Nóg ’n Tukkie, Taylon Bieldt, het die pyp gerook in die vroue se 100 m-hekkies met ’n tyd van 13.81 sek.

Lindsay Hanekom van Tuks het met ’n tyd van 49.64 op die boonste trap van die podium gestaan in die 400 m-hekkies. Cornel Fredericks, die voormalige Statebondkampioen en Vrystaat-atleet, was tweede in 49.64 sek.

Zeney van der Walt, die o.20-wêreldkampioen in die 400 m-hekkies, het haar teenstanders sonder te veel moeite uitoorlê in haar voorkeur-item.

Sy was eerste in 57.61, met Chanel Leuvennink tweede in 58.50.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.