Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Visser wil verspring-droogte breek

Hy het al drie keer agtereenvolgens met die nasionale titel in die verspring weggestap, maar Zarck Visser het sedert sy laaste sege in 2014 ’n droogte van vier jaar beleef en sal vanjaar die bordjies wil verhang.

Dit is egter geen maklike taak wat op hom wag nie. Hy moet immers Luvo Manyonga, die wêreldkampioen, en ook die Afrika-kampioen, Ruswahl Samaai, se doppie klink voordat hy bo op die podium kan staan.

Zarck Visser het die week ’n vierde Suid-Afrikaanse titel in die verspring in die visier. Foto: Getty Images

Die eerste skote van die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap klap Donderdag in Germiston met die laaste nommer wat Saterdagaand beslis sal word.

Visser sal reeds Donderdag omstreeks 15:00 sy kwalifiserende ronde aanpak en hoef daarna eers Saterdagmiddag vir die eindronde aan te tree. Dis nou as alles volgens plan verloop.

Visser is egter vol selfvertroue dat hy ’n sterk aanspraakmaker sal wees nadat hy juis vroeër vanjaar in Germiston sy persoonlike beste afstand van 8,41 m, wat hy die eerste keer in 2015 behaal het, geëwenaar het.

“Ek soek regtig ’n goeie afstand,” het Visser in ’n verklaring gesê.

“Ek wil Doha toe gaan vir die Wêreldkampioenskap en om dit te doen moet ek ’n goeie sprong behaal wat ten minste naby aan my beste is. Met Luvo (Manyonga) en Rus (Samaai) in die kompetisie sal podiumplekke ’n luuksheid wees.”

Suid-Afrika is egter vanjaar in die bevoorregte posisie waar hy tot vier verspringers na die Wêreldkampioenskap in September kan stuur.

Manyonga, wat in 2017 goud gewen het by die Wêreldbyeenkoms in Londen, kwalifiseer outomaties vir die byeenkoms in Doha as die verdedigende kampioen.

Ek wil Doha toe gaan vir die Wêreldkampioenskap en om dit te doen moet ek ’n goeie sprong behaal wat ten minste naby aan my beste is.
Zarck Visser

Elke land kan drie atlete per item inskryf, maar as verdedigende kampioen tel Manyonga apart hiervan en kan Suid-Afrika steeds drie ander atlete saamneem, mits hulle almal die kwalifiserende vereistes gehaal het.

“Daar is altyd jong talent wat deurkom,” sê Visser.

“Dis goed vir die kompetisie, maar nie so goed vir ons nie.”

Manyonga, Samaai en Visser sal egter steeds die gunstelinge wees vir podiumplekke. Dis meer ’n kwessie van watter kleur om hul nekke gaan hang.

Die 21-jarige Cheswell Johnson kan wel ook vir ’n verrassing sorg en spog met ’n beste afstand van 7,97 in 2019 en het al 8,12 m op sy kerfstok.

Visser het egter heelwat ervaring en sal weet hoe om sake te benader wanneer die druk begin bou.

“Ek sal net op myself fokus, my tegniek en wat ek kan beheer. Hoe die ander atlete vaar is buite my hande. Ek sal net moet reageer as hulle met ’n groot sprong na vore kom.”

Meer oor:  Luvo Manyonga  |  Zarck Visser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.