
Carmie Prinsloo van die Hoërskool Montana verlede jaar tydens die Olimpiese Jeugspele in Buenos Aires, Argentinië.Foto: Gallo Images
Die Hoërskool Vorentoe se landloopspanne het hulself wéér onderskei as een van die toonaangewers nadat die senior seuns en junior, sowel as senior meisies as die Noordvaal-kampioene gekroon is.
Vorentoe se seuns het vir die derde opeenvolgende jaar met die louere weggestap in die senior-afdeling en boonop voortgebou op hul indrukwekkende rekord waar hulle vir die 19de keer sedert 2000 gewen het.
Net so het die meisiespan ook vir die negende opeenvolgende jaar die trofee omhoog gehou en was dit ook hul 18de keer bo op die podium sedert 2000.
Die Hoërskole Zwartkop, Menlopark, Waterkloof, Randburg, Centurion, Garsfontein, Kempton Park, Dr. EG Jansen, Jeugland en Montana het onder die teenstanders getel.
In die meisies se individuele senior-afdeling vir o.16’s, o.17’s en o.18’s het die Hoërskool Montana se Carmie Prinsloo uitgeblink en die eerste plek opgeraap. Sy het nie minder nie as 70 ander deelnemers geklop om te wen. Prinsloo, wat vanjaar die silwermedalje gewen het in die 1 500 m by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap waar sy net deur Caster Semenya geklop is, is een van diegene wie se vordering gerus dopgehou kan word.
Sy is gevolg deur Potchefstroom Gimnasium se Danelle Verster, met Vorentoe se Dipuo Mashamaite wat derde geëindig het.
In die junior-afdeling vir o.14’s en o.15’s het Naledi Makgatha van Vorentoe die goue medalje gewen nadat sy haar 71 teenstanders getroef het, terwyl die Hoërskool Zwartkop se Li-Marie Dekker naasbeste was en silwer gevat het. Vorentoe se Ntokozo Tlou het boonop die brons medalje gewen.
Vorentoe het die seunsafdeling oorheers waar Johannes Morepe as die junior-kampioen aangewys is. Hy is gevolg deur die Tuks Sportskool se Sanele Zixunge en nog ’n atleet van Vorentoe, Siyabonga Mvelase.
In die senior-afdeling was dit eenrigtingverkeer met al drie die podiumplekke wat deur die Vories opgeraap is.
Tumi Lephoto het goud gevat, terwyl Nicholas Seopesengwe (silwer) en Tshepo Ntuntwana (brons) gevolg het.
Die byeenkoms is deur die Noordwes Universiteit aangebied en word al sedert 1983 gehou.