Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Vrae ná blits opkikkertoetse misloop

Die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) se Wêreldkampioenskap begin oor net meer as ’n maand en as daar een ding is wat ’n atleet nie nou wil hê nie, is dit om die gevaarligte te laat flikker rondom die moontlike gebruik van verbode middels.

Dis egter presies wat die geval is vir die Amerikaner Christian Coleman, wat tans die vinnigste atleet in die wêreld is in die 100 m.

Christian Coleman steek die wenstreep eerste oor tydens die Prefontaine Classic-byeenkoms in Kalifornië in Junie. Foto: Getty Images

Coleman het die afgelope week skokgolwe uitgestuur toe nuus gebreek het dat die IAAF op sy spoor is nadat hy drie agtereenvolgende toetse vir die gebruik van verbode middels misgeloop het.

Die Daily Mail en The Times in Brittanje het deur die week berig dat Coleman, wat op die nipper onttrek het uit die Diamantliga-byeenkoms in Birmingham, appelleer teen minstens een van die drie klagtes wat die afgelope 12 maande teen hom aanhangig gemaak is.

Atlete wat hulself nie beskikbaar stel vir toetse vir die gebruik van verbode middels nie, word dieselfde hanteer as atlete wat reeds dié toetse gedop het. Die Amerikaner word gevolglik deur ’n skorsing in die gesig gestaar en dié donker wolk kan hom ook ’n plek in die Amerikaanse span kos vir die Wêreldkampioenskap, wat op 27 September in Doha, Katar, begin.

Vir atletiek sal dit ’n groot terugslag wees indien Coleman geskors word of positief getoets word, veral nadat die sport nog nie volkome kon herstel nie ná die Russe se skandaal rakende die gebruik van verbode middels en die manipulasie van monsters ná afloop van die Sotsji-Winterspele in 2014.

Die Amerikaner word sedert 2018 geoormerk om moontlik Usain Bolt se opvolger te wees nadat die Jamaikaan in 2017 sy uittrede aangekondig het.

Dit kom nadat Coleman verlede jaar die wêreldrekord in die binnenshuise 60 m opgestel het in 6.34 sek.

Hy het in 2017 ’n blitstyd van 19.85 in die 200 m opgestel en verlede jaar ook 9.79 in die 100 m gehol, voordat hy vanjaar reeds die stophorlosie op 9.81 tot stilstand gebring het.

Hy tel tans onder die voorste agt atlete in die geskiedenis van die 100 m.

* Intussen berig AFP dat Coleman se landgenoot en voorste atleet in die wêreld in die 200 m, Noah Lyles, sy skok uitgespreek het oor Coleman sy toetse gemis het.

“Ek is geskok. Jy verwag nie dat enige iemand drie (toetse) sal mis nie,” het Lyles, wat verlede maand by die Diamantliga-byeenkoms in Lausanne die 200 in 19.50 sek. gewen het, gesê.

“Jy weet nie hoekom nie. Dit kan ’n verskeidenheid van dinge wees, so ek weet nie.”

– Sportredaksie, Reuters, AFP

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.