Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Vrou behaal rekord aan halfmarathons

Drie pare drafskoene en sowat 2 200 km se draf later, het ’n vrou van Port Elizabeth 101 dae agtereenvolgens ’n halfmarathon afgelê om bewustheid vir die bewaring van renosters te skep.

Uitasem, maar steeds energiek soos toe sy op 22 September, Wêreldrenosterdag, dié uitdaging aangepak het, het Sharon Jessop (50) op Oujaarsdag haar 101ste agtereenvolgende halfmarathon voltooi. Hiermee het sy ook ’n Guinness-wêreldrekord verbeter vir die vrou wat die meeste agtereenvolgende halfmarathons voltooi het.

Sharon Jessop word deur ’n groep drawwers ondersteun terwyl sy Donderdagoggend oor die eindstreep van haar 101ste agtereenvolgende halfmarathon in Port Elizabeth draf. Foto: Cara-Lee Dorfling

Hoewel 101 haar teiken was, het sy Donderdag spontaan besluit om ’n laaste halfmarathon Vrydag af te lê vir Attie Williams, ’n vriend wat sy tydens die uitdaging ontmoet het, se verjaarsdag.

Hiermee sal die rekord dus op 102 staan, wat bykans dubbeld haar aanvanklike mikpunt was. Dít omdat die rekord op Wêreldrenosterdag nog op 50 agtereenvolgende dae gestaan het, maar kort daarna tot 75 dae verbeter is, en nóg ’n rekordpoging van 100 agtereenvolgende dae ten tyde onderweg was.

“Op die einde van die dag gaan dit nie oor my of die rekord nie, dit gaan oor die red van hierdie pragtige diere, asook werkskepping om te verseker ons mense het kos op die tafel en kinders kan skool toe gaan.

“Die ikoniese diere verdien ons respek en aandag. Die dag wanneer die laaste renoster dood is, het ons as mense misluk,” het Jessop gesê.

Gedurende haar rekordpoging is R46 000 ingesamel, wat sy aan die plaaslike gemeenskapskas en die One Land Live It (Olli)-stigting, wat met die bewaring van wildlewe gemoeid is, sal skenk.

Die rekordpoging is Donderdag in Lorraine in Port Elizabeth gevier. Van links na regs staan Helga van Staaden, burgemeesterskomiteelid vir sport, kuns en kultuur in die Nelson Mandelabaai-metro, Selwyn Willis, uitvoerende hoof van die plaaslike gemeenskapskas, Nqaba Bhanga, burgemeester, Sharon Jessop en Wayne Bolton, stigter van die One Land Live It-stigting. Foto: Cara-Lee Dorfling

“Die skenkingsfonds sal vir ’n ruk nog oop wees, aangesien ons hoop mense moontlik nou sal skenk nadat die rekord behaal is.”

Wayne Bolton, stigter van Olli, het Jessop vir haar toewyding geloof en sê dit is mense soos sy wat hoop bring wanneer die wêreld somber raak.

“Die Oos-Kaap is bekend vir sy wildlewe. Mense besoek die provinsie vir die Groot 5; dit sal ’n tragedie wees as ons slegs die Groot 4 oor het. Deur Sharon se pogings het sy die wêreld se fokus op ons wildlewe geplaas en opnuut hoop gebring.”

Ook Nqaba Bhanga, burgemeester, het Jessop Donderdag by die eindstreep van haar 101ste halfmarathon gelukgewens en as ’n held bestempel.

“Ons is dankbaar vir haar onselfsugtige heldedaad waarmee sy bewusmaking vir ons stad, asook vir die renosters bied. Opvoeding oor die belangrikheid van die diere is wat nodig is om die geveg teen renosterstropers te wen.

Sharon Jessop vier haar 101ste halfmarathon terwyl sy op die rug van die One Land Live It-stigting se renosterbeeld sit. Foto: Cara-Lee Dorfling

“Deur haar pogings het sy ’n diverse gemeenskap saamgebring. Sy het ook aandag op die Nelson Mandelabaai-metro vir die halfmarathon-drafgemeenskap gevestig.”

Elke dag se drafroete van 22 km, om te verseker dat daar nie later ’n dispuut oor haar 21,1 km-halfmarathon afstand nie, is onder meer gemeet deur Jan van Eeden, een van slegs agt provinsiale baanmeters.

Die vereiste inligting sal aan die Guinness-wêreldrekords verskaf word, waarna ’n minimum van 12 weke gewag word om te hoor of die rekord amptelik aan Jessop behoort.

Meer oor:  Renosters  |  Bewaring  |  Rekord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.