Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Vroueatletiek groet baanbreker

Die eerste vrou wat die amptelike wêreldrekord in die marathon agter haar naam kon skryf, het haar geveg teen kanker verloor.

Dale Greig het die weg vir vroue gebaan om hul slag in marathons en ander uithouwedlope te wys.Foto: Getty Images

Dale Greig, legendariese Skotse atleet, is op 12 Mei, net drie dae voor haar 82ste verjaardag, dood, het die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) Donderdag bekend gemaak.

Greig het in 1964 ’n huishoudelike naam geword toe sy besluit het om aan die Ryde-marathon op die eiland Wight (naby aan die Engelse suidkus) deel te neem terwyl sy daar met vakansie was.

Sy was destyds ’n sekretaresse by Skotland se eerste toegewyde atletiektydskrif, die Scottish Athlete, en is toegelaat om aan dié marathon deel te neem in ’n tyd waar daar weinig gemengde marathonwedlope of marathons uitsluitlik vir vroue was. Dit was in baie plekke selfs verbied.

Sy is toegelaat om vier minute voor die 67 mans wat ingeskryf het, weg te spring en het daarna boonop ’n klomp van hulle ore aangesit ook.

Waar 19 van die mans uitgeval het, het Greig vasgebyt en binne ’n tyd van drie uur, 27 minute en 45 sekondes die wenstreep oorgesteek. Sy was die eerste vrou wat die volle marathon-afstand van 42,2 km afgelê het in ’n wedloop waar die tyd amptelik erken is. Dit was ook die eerste keer dat ’n vrou dié afstand in onder 3:30:00 kon aflê.

“Ek het jammer gevoel vir die mans by wie ek verby gehardloop het naby aan die einde. Hulle het skaam gelyk,” het sy destyds ná haar baanbrekerwedloop gesê.

Dít nadat organiseerders aan die paramedici gesê het om Greig dop te hou en op bystand te wees.

Greig, wat in Paisley naby Glasgow gewoon het, het gereeld tot 80 km tydens oefeninge afgelê en was suiwer daarop ingestel om die marathon te voltooi en niks anders nie.

Die Ryde-klub moes ná afloop van die wedloop op die eiland ’n storm afweer nadat talle briewe aan hulle gestuur is waarin die deelname van ’n vrou gekritiseer is en die wedloop as “ ’n verleentheid vir die sport” beskryf is.

Greig het nie eens ’n enkele sent ontvang vir haar uitmuntende prestasie nie, maar sy het die weg gebaan vir vroue om ’n loopbaan in dié nommer te maak.

Sy was ook die eerste vrou wat die eiland Man se bergwedloop van 64 km kon voltooi, die eerste vrou om teen die berg Ben Nevis in Skotland te kon uithardloop in ’n wedloop en ook in 1974 die eerste wenner van die Wêreld-meestersmarathon in Parys.

Greig was boonop in 1972 die eerste vrou wat die 55 myl-wedloop van Londen na Brighton voltooi het. Dít was sewe jaar voordat vroue amptelik toegelaat is om daaraan deel te neem.

Haar begrafnis is Vrydag in Paisley gehou.

* Bronne: iaaf.org, heraldscotland.com, scottishathletics.org.uk

Meer oor:  Marathon  |  Iaaf  |  Skotland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.