Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
VSA mans oorheers IAAF-benoemings

Nie minder nie as vyf Amerikaners tel onder die 11 benoemings vir die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) se Mansatleet van die Jaar.

Donavan Brazier, Christian Coleman, Sam Kendricks, Noah Lyles en Christian Taylor tel almal onder die hoopvolles om met dié gesogte prys gekroon te word.

Noah Lyles as lid van Amerikaanse 4x100 m-aflosspan wat ’n goue medalje op die Wêreldkampioenskap in Doha gewen het. Foto: Getty Images

Kenia se Timothy Cheruyiot en Eliud Kipchoge is ook benoem vir hul prestasies vanjaar.

Joshua Cheptegei van Uganda, Steven Gardiner van die Bahamas, Daniel Stahl van Swede en Karsten Warholm van Noorweë is die ander benoemdes.

Brazier het die eerste Amerikaanse man geword om die 800 m-titel op ’n Wêreldkampioenskap te verower toe hy in Doha goud gewen het in ’n byeenkomsrekord van 1:42.34. Hy is boonop die Diamantliga-kampioen.

Coleman se benoeming sal sekerlik weer debat laat opvlam oor of hy enigsins toegelaat moes wees om deel te neem nadat hy drie agtereenvolgende toetse vir die gebruik van opkikkers in die afgelope 12 maande misgeloop het.

Daniel Stahl van Swede is benoem vir sy vertonings in die diskusgooi. Foto: Reuters

Nietemin het hy die 100 m-wêreldtitel in 9.76 sekondes ingepalm en was boonop ook ’n lid van die 4x100 m-aflosspan wat as wêreldkampioene gekroon is.

Kendricks het sy titel in die paalspring suksesvol verdedig en vanjaar oor die dwarslat geseil op ’n hoogte van 6,06 m.

Lyles was een van die grootste uitblinkers vanjaar nadat hy goud gewen het in die 200 m op die Wêreldkampioenskap en ook ’n lid van die VSA se seëvierende aflosspan was.

Hy het boonop met die Diamantliga-titels in die 100, sowel as 200 weggestap.

Taylor het sy driesprong-wêreldtitel die tweede keer suksesvol verdedig nadat hy in 2015 in Beijing en 2017 in Londen ook gewen het. Die Diamantliga-titel is ook ’n sewende keer aan hom oorhandig.

Nommer een! Karsten Warholm van Swede van vanjaar onoorwonne in die 400 m-hekkies.Foto: Reuters

Kenia se duo van Cheruyiot en Kipchoge het sake in die langer afstande oorheers.

Cheruyiot het goud in die 1 500 m verower in Doha, sowel as by die Diamantliga, terwyl Kipchoge die Londen-marathon gewen het in ’n nuwe byeenkomsrekord en boonop Saterdag die eerste persoon geword het om deur twee ure te breek in die marathon.

Cheptegei het in die langafstande sy stem dik gemaak en die 10 000 m-wêreldtitel in 26:48.36 verower en is ook as die landloop-wêreldkampioen in Aarhus in Denemarke aangewys.

In die 400 m het sake aan Gardiner behoort wat goud verower het in 43.48 sekondes en nie ’n enkele keer in 2019 die knie gebuig het nie.

Met ’n afstand van 71,86 m in die diskusgooi het Stahl die vyfde plek op die lys van bestes nog ingeneem en goud in Doha gewen om by sy Diamantliga-titel te voeg.

Warholm het elke wedloop, binnenshuis ingesluit, vanjaar in die 400 m-hekkies gewen. Hy het die kroon gespan toe hy in Doha se titel verdedig het en het boonop vanjaar in 46.92 sekondes die naasbeste tyd nog gehardloop.

* Die benoemdes vir die IAAF se Vroueatleet van die Jaar sal Dinsdag bekend gemaak word.

Die wenners sal op 23 November in Monaco aangewys word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.