Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
VSA oorheers wéér Wêreld-kampioenskap

Amerika is vir die tweede agtereenvolgende keer as atletiek se toonaangewers aangewys by die Wêreldkampioenskap wat Sondagaand in Doha, Katar, voltooi is.

Uganda se Joshua Cheptegei is die eerste man van dié Afrika-land wat die 10 000 m se wêreldtitel kon verower.Foto: Reuters

Die Amerikaners het hul status as die voorste land in dié sport, net soos in 2017, bevestig met ’n totaal van 29 medaljes. Veertien hiervan was goud, elf silwer en vier brons.

Hiermee het hulle meer eerste plekke verower as die 10 wêreldkampioene wat hulle in 2017 in Londen gelewer het.

Nie minder nie as 63 atlete van Amerika het onder die voorste agt in hul items klaargemaak by die byeenkoms.

Suid-Afrika se beste vertonings was die twee vierde plekke wat Akani Simbine en Luvo Mayonga onderskeidelik in die 100 m en verspring behaal het.

Stephen Mokoka het Sondagoggend ’n vyfde plek in die marathon behaal om saam met Ruswahl Samaai (verspring) en die mans 4x100 m-aflosspan in dié posisie te eindig.

Rikenette Steenkamp het Sondag in die 100 m-hekkies se halfeindronde uitgeval met ’n sewende plek.Foto: Reuters

Hulle was die enigste atlete wat onder die voorste agt in hul items kon eindig.

Kenia se langasems het met elf medaljes (vyf goud, twee silwer en vier brons) verseker dat hulle die tweede plek op die medaljetabel beklee.

Amerika het Sondag dubbele glorie in die 100 m-hekkies beleef waar Nia Ali die wedloop oorheers het in 12.34 sekondes om goud te wen, met Kendra Harrison wat silwer verower het in 12.46. Danielle Williams van Jamaika het brons gevat in 12.47.

Ofskoon Rikenette Steenkamp net in die sewende plek in die tweede halfeind-wedloop van dié item kon eindig, het sy steeds daarin geslaag om die agtste keer in haar loopbaan onder 13 sekondes te hardloop. Sy het boonop 0.01 sekondes vinniger gehardloop as die seisoensbeste wat sy Sondag opgestel het. Dié slag het sy die wenstreep in 12.96 oorgesteek.

Steenkamp, wat nie die kwalifiserende vereistes vir die byeenkoms kon behaal nie, maar steeds op uitnodiging van die IAAF haar buiging by die byeenkoms gemaak het, sal sonder twyfel tevrede voel nadat sy dit deur die uitdunne gemaak het. Agt atlete was boonop stadiger as sy in die drie halfeindrondes.

Timothy Cheruiyot het in die voetspore van sy landgenoot en 2017-kampioen Elijah Manangoi gevolg om te verseker die 1 500 m se titel behoort weer aan Kenia.

Cheruiyot het in 3:29.26 gewen nadat hy vandat die skoot geklap het die voorsprong geniet het. Taoufik Makhloufi van Algerië was naasbeste in 3:31.38.

Uganda se Statebondkampioen in die 10 000 m het eindelik ’n historiese oomblik vir sy land vasgepen toe hy goud gewen het in 26:48.36 en sodoende die eerste man van sy land geword het wat met die titel as wêreldkampioen in dié nommer kan spog.

Ethiopië se Yomif Kejelcha het silwer gevat in 26:49.34.

’n Afstand van 7,30 m in die derde ronde het Duitsland hul eerste verspring-wêreldkampioen sedert 1993 gee met Malaika Mihambo wat dié gesogte titel verower het.

As Sondag se uitdunne as maatstaf gebruik sou moes word, sou daar nie eens twyfel wees oor die mans se spiesgooi sou wen nie, maar soos daar nou al só baie gewys is, kan druk ’n groot verskil maak.

Die Duitser en 2017-kampioen Johannes Vetter het in die kwalifiserende ronde net een poging nodig gehad om die maatband tot 89,35 m te laat strek – loshande die beste gooi.

Hy moes egter met die bronsmedalje tevrede wees nadat hy in die eindronde net 85,37 m kon vermag.

Grenada se Anderson Peters was koel soos ’n komkommer om Vetter te onttroon met 86,89 m, terwyl Magnus Kirt van Estland die Duitser ook verbygesteek het met 86,21 m vir die silwermedalje.

Die VSA het in die vroue se 4x400 m-hekkies groot name soos Phyllis Francis, Sydney McLaughlin, Dalilah Muhammad en Wadeline Jonathas opgestoot. En daar was geen twyfel oor wie die eerste plek sou verower nie.

Die Amerikaners het gewen in ’n haastige tyd van 3:18.92. Pole was tweede in ’n nasionale rekord van 3:21.89 met Jamaika derde in 3:23.02.

Dieselfde storie het hom by die mans se eweknie afgespeel waar Fred Kerley, Michael Cherry, Wilbert London en Rai Benjamin laat waai het in 2:56.69 vir die goue medalje. Jamaika was hier tweede in 2:57.90, met België derde in 2:58.78.

Meer oor:  Katar  |  Atletiek  |  Doha  |  Wêreldbyeenkoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.