Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Wada bekyk nou Salazar se atlete

Die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport (Wada) gaan al die atlete ondersoek wat onder die geskorste breier Alberto Salazar geoefen het.

So het Wada se president, Craig Reedie, Dinsdag gesê met die viermalige Olimpiese kampioen Mo Farah, asook die nuutgekroonde dubbele wêreldkampioen, Sifan Hassan, wat op die radar is.

Sifan Hassan van Nederland wen die 1 500 m op die IAAF se Wêreldkampioenskappe in Doha vroeër vanjaar. Foto: Getty Images

Die 61-jarige Amerikaner is vir vier jaar geskors nadat hy skuldig bevind is aan oortredings met betrekking tot die verspreiding van verbode middels.

Die ondersoek self het vier jaar geduur, voordat Wada se Amerikaanse eweknie, Usada, eindelik opgetree het.

Salazar was een van die baasbreine agter Nike se Projek Oregon (NOP), waar hy met atlete gewerk het aan hul uithouvermoëns.

Dié projek is sedertdien geskrap in die nadraai van Salazar se skorsing.

Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het egter ’n versoek aan Wada gerig om na al Salazar se atlete te kyk wat by dié projek betrokke was.

“In die geval het ons die reg om na alle klagte teen Salazar te kyk, maar ons is veral geïnteresseerd daarin om te kyk of daar enige probleme vorentoe gaan wees wat die atlete betref,” het Reedie aan AP gesê.

“Ons is nog aan die begin van die proses, want ons moet al die dokumentasie vanaf Amerika kry, maar ons sal daarna kyk.”

EUGENE, OR - JUNE 25: Nike Oregon Project coach A
Alberto Salazar. Foto: Getty Images

Alle atlete wat deur Salazar afgerig is, het waarskuwings gekry wat hulle verbied om hulle in die toekoms enigsins met hom te vereenselwig.

Die NOP is in 2001 gestig, met Farah wat tussen 2011 en 2017 daar geoefen het.

In die tydperk wat Farah by Salazar geoefen het, het hy gevorder van ’n atleet wat nie vir die eindronde op 2008 se Olimpiese Spele in Beijing kon kwalifiseer nie, tot statisties die beste langafstandatleet in die geskiedenis.

Hy het tien goue medaljes verower op die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se Wêreldkampioenskappe tussen 2011 en 2017.

Hy is boonop in die 5 000 m en 10 000 m as Olimpiese kampioen gekroon in Londen in 2012 en in Rio de Janeiro in 2016.

Farah en Salazar se paaie het in 2017 geskei, voordat die ondersoek afgehandel was.

Hassan het vanjaar die eerste persoon geword wat goud in die 1 500 m en 10 000 m kon behaal op die Wêreldkampioenskappe in Doha, Katar.

Salazar was sedert 2016 haar breier.

Farah en Hassan het egter nog nooit ’n toets vir die gebruik van verbode middels gedop nie. – Sportredaksie, insidethegames.biz, AP

Meer oor:  Verbode Middels  |  Sifan Hassan  |  Wada  |  Iok. Mo Farah  |  Alberto Salazar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.