Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Wayde: 1 kaartjie om van dié rit af te klim!
Wayde van Niekerk Foto: Getty Images

Vier uit vyf is ’n uitslag wat die meeste mense sal laat jubel. Vir nasionale sportspanne se breiers is dit meer as genoeg om aan hul poste vas te klou. Vir studente is dit ’n onderskeiding om oor te spog.

Maar vir Wayde van Niekerk, wêreldrekordhouer in die 400 m, was daardie een ongunstige uitslag genoeg om sy terugkeer te kelder.

Sedert Van Niekerk in 2017 in ’n raakrugbywedstryd sy kruisligament beseer het, neem hy Suid-Afrika op ’n wipwaentjierit van emosies.

Hy het 2018 geheel uitgesit om sy rehabilitasie te voltooi. In 2019 het hy kortstondig in die Vrystaatse atletiekkampioenskap teruggekeer voordat hy ’n spier gekneus het en weer langs die kantlyn was.

Toe breek 2020 aan. Van Niekerk tree aan op ’n Kovsie-byeenkoms, waarna hy ook weer in die Vrystaatse kampioenskap in die blokke gesak het. Die tekens was duidelik: Die Bloemfonteiner is fiks, gretig en gereed.

Sekerlik kon net ’n pandemie hom stuit . . .

Sedert hy twee weke gelede in Italië van die vliegtuig geklim het om hom by sy Europese oefenbasis in Gemona aan te meld is hy nie minder nie as vyf keer vir die koronavirus getoets.

Die eerste drie was almal in sy guns nadat dit negatief teruggekom het.

Die uitslag van sy vierde toets, aan die vooraand van sy terugkeer Saterdagaand op ’n byeenkoms in Trieste, het hom egter gepootjie.

Sy gedrag en beperkings in Italië het sy bestuurspan dadelik met vraagtekens gelaat.

Hy was immers nooit op plekke waar hy met vreemdelinge kontak gehad nie. Dan is nie sy afrigter, Ans Botha, sy agent, Peet van Zyl, sy Suid-Afrikaanse spanmaats Ruswahl Samaai en Antonio Alkana asook Samaai se breier, Jenny Kingwill, positief getoets nie.

Hulle is almal vier keer deur dié proses.

Daarbenewens het Van Niekerk die hele week geoefen sonder om ’n enkele simptoom te toon.

“Ons is almal in isolasie, waar ons nie meng met ander mense nie en op ’n aparte vloer bly,” het ’n ontstoke Van Zyl gesê. “Ons eet tot al ons etes apart.”

Van Niekerk en sy span het toe aangedring op ’n hermerk – ’n vyfde toets – om seker te maak dat hy inderdaad nie mag deelneem nie.

Dié jongste toetsuitslag, wat hy Saterdag gekry het voor die Triveneto-byeenkoms, waarop hy veronderstel was om in die 100 en 400 aan te tree, het weer gewys dat die Suid-Afrikaanse atleet gesond is.

“Al was sy vierde uitslag vroeër in die week positief vir Covid-19, het dit voorgekom asof dit ’n valse positief was nadat sy vyfde toets weer negatief was,” het Bronwyn Roets van In-Site Athlete Management, die agentskap wat Van Niekerk verteenwoordig, gesê.

Die toets se uitslag was egter te laat om weer die groen lig te kry.

“Hy moes toe kort voor die byeenkoms onttrek word as ’n voorsorgmaatreël nadat hy vir bloedtoetse gegaan het.”

Dié toetse is vir teenliggame en toon of iemand voorheen al geïnfekteer was met die virus wat Covid-19 veroorsaak.

Van Niekerk se span is nou weer op die kruin van dié oneindige rit van emosies terwyl hulle op die bloedtoetse se uitslag wag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.