Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Wayde bly oor ‘momentum’ van sege
Wayde van Niekerk wen Saterdag die 200 m in die nasionale atletiekkampioenskap in Pretoria. Foto: Gallo Images

Twee van die groot trekpleisters in die afgelope nasionale atletiekkampioenskappe, Wayde van Niekerk en Akani Simbine, het tekens getoon dat hulle later vanjaar glorie vir Suid-Afrika in die Olimpiese Spele in Tokio kan verseker.

Van Niekerk (28), die wêreldrekordhouer en Olimpiese kampioen in die 400 m, het Saterdag die 200 m in 20.38 by Tuks in Pretoria gewen, terwyl Simbine (9.99) Vrydag in die 100 m gewen het.

Vroeër vanjaar het Van Niekerk aangekondig dat hy sy jarelange afrigter, Ans Botha, vaarwel gaan roep om in Amerika vir die Spele te gaan voorberei. Dit is omtrent ’n groot stap om te neem net ’n paar maande voor die eerste skote in Tokio klap.

Dit in ag genome was dit vir Van Niekerk belangrik om die naweek te wen. Hy het ná sy sege Saterdag in ’n onderhoud gesê “dat ek nou hierdie momentum kan gebruik om vorentoe te gaan”.

Dat momentum broodnodig is om enige drome oor glorie by die Spele ’n werklikheid te maak, kan nie betwyfel word nie. Dit is seker te verwagte dat Van Niekerk gevra sou word of alles op koers is om sy titel suksesvol in die 400 m in Japan te verdedig.

Dit gaan goed in oefening, en ek het vertroue in myself. Daar is baie dinge waaraan ek steeds kan werk en in kan verbeter.
Wayde van Niekerk

“Dit gaan goed in oefening, en ek het vertroue in myself. Daar is baie dinge waaraan ek steeds kan werk en in kan verbeter,” sê Van Niekerk.

Simbine (27) was in sy noppies, nie net met sy sege nie, maar ook omdat dit vir hom bewys dat hy nie afwyk van sy planne vir Tokio nie.

“Ek is bly dat ek nog ’n wedloop onder tien sekondes kon hardloop en die sleutel is nou om gesond te bly,” het Simbine volgens ’n verklaring van Atletiek Suid-Afrika gesê.

“Dit is nog ’n groot jaar en my mikpunt is steeds die Olimpiese Spele in Tokio.”

Slegs vyf atlete spog volgens worldathletics.org vanjaar met vinniger tye as Simbine in die 100 m. Twee Amerikaners, Jo’Vaughn Martin en Ronnie Baker, is boaan die lys met 9.94.

Dat Simbine Donderdag in die halfeind 9.82 gehardloop het, met die wind wat ongelukkig te sterk van agter was, sou hom en die hele Suid-Afrika wel hoop gegee het dat glorie in Tokio binne sy bereik is.

Maar wat het die afgelope nasionale atletiekkampioenskappe ons vertel oor ander hoopvolles in die aanloop tot Tokio?

Sunette Viljoen moes met die silwermedalje in die spiesgooi tevrede wees. Foto: Gallo Images

Wel, Rocco van Rooyen, wat reeds vroeër die kwalifiserende vereiste in die spiesgooi bereik het, het die nasionale titel met ’n afstand van 85,25 m gewen.

En Sunette Viljoen (spiesgooi) en Caster Semenya (5 000 m)?

Die twee het albei in die 2016 Spele in Rio de Janeiro op die podium gestaan, Viljoen met ’n silwermedalje om die nek vir die spiesgooi en Semenya met ’n goue medalje nadat sy die 800 m gewen het.

Maar Viljoen (37) moes Vrydag met die tweede plek tevrede wees met ’n afstand van 57,37 m – Jo-Ane van Dyk (59,47 m) het gewen.

Daar sal natuurlik diegene wees wat gou daarop sal wys dat ’n sege in die nasionale kampioenskap in die jaar waarin die Spele beslis word, nie die alfa en omega is nie. Maar die kwalifiserende afstand om op die vliegtuig na Tokio te wees is 64 m – en Viljoen het meer as ses meter kort daarvan gedraai in Pretoria. Haar beste afstand vanjaar is 60,6 m.

Semenya (30), wat die 5 000 m in 15:52.28 gewen het, se wentyd is heelwat kort van die 15:10.00 wat benodig word vir die Spele.

Wat die verspring betref, het Ruswahl Samaai in Luvo Manyonga se afwesigheid, wat silwer in 2016 se Spele verower het, gewen. Samaai se wenafstand van 8,16 m is net-net kort van die kwalifiserende afstand van 8,22 m.

Of daar behalwe Van Niekerk, Simbine en Van Rooyen nog ernstige aanspraakmakers op medaljes in vanjaar se Spele is, sal egter net die tyd leer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.