Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Wayde dié naweek uit isolasie
Wayde van Niekerk sal waarskynlik eers in September sy internasionale terugkeer maak, nadat hy die afgelope twee weke in selfisolasie moes deurbring. Foto: Getty Images

Wayde van Niekerk se lang verwagte terugkeer tot die internasionale verhoog sal waarskynlik nou eers in September wees.

Die 400 m-wêreldrekordhouer is tans nog in isolasie nadat hy op 30 Julie positief getoets is vir Covid-19, maar sal na verwagting Vrydag uiteindelik weer sy voete buite kan sit en voortgaan met sy voorbereiding vir die Europese atletiekseisoen.

Dié 28-jarige Vrystater is tans by sy Europese oefenbasis in Gemona, Italië, en sou op 1 Augustus in Trieste die eerste keer in bykans drie jaar buite Suid-Afrika deelgeneem het.

Hy is egter ’n dag voordat hy vir die 100 en 400 sou aantree, positief getoets vir die koronavirus.

Die Suid-Afrikaner is die volgende dag weer getoets en dié keer was die uitslag negatief. Dit was toe egter te laat om steeds te kon deelneem.

Van Niekerk is vyf keer in twee weke getoets in die aanloop tot die byeenkoms in Trieste. Eindelik was vier hiervan negatief en een positief.

Alle aanduidings is dat die ongunstige toets ’n valse positief was nadat Van Niekerk nie voor die wedloop of selfs ná die tyd enige Covid-19-simptone ervaar het nie.

Nietemin is hy sedertdien in isolasie geplaas as ’n voorsorgmaatreël.

“Wayde is nog in isolasie, soos deur die owerhede vereis word. Hy kom eers Vrydag uit,” het Peet van Zyl, Van Niekerk se agent, vanuit Italië gesê.

Die Italiaanse atletiek-webwerf atleticalive.it het bespiegel die Olimpiese kampioen sal komende Maandag in Lignano Sabbiadoro in die blokke sak by die 31ste Solidariteitsbyeenkoms, waar hy kragte sal meet met Marcell Jacobs, Italië se voorste atleet in die 100.

Van Niekerk se agent het egter bevestig dat sulke bespiegelings blote wensdenkery is.

“Hy sal beslis nie binne die volgende twee weke deelneem nie en ons moet nou ook mediese goedkeuring kry,” het Van Zyl gesê.

Gevolglik sal Van Niekerk op die vroegste teen die einde van Augustus, maar waarskynlik eers in September, sy lang verwagte internasionale terugkeer tot die atletiekbaan maak.

Van Zyl sê dat die Bloemfonteiner en sy afrigter, Ans Botha, nie oorhaastig sal wees om Van Niekerk vir ’n byeenkoms in te skryf nie.

“Ons hou by die mediese riglyne en plaas Wayde en al die ander atlete, afrigters en fisioterapeute se welstand eerste.”

Van Niekerk het op 10 Augustus 2017 laas oorsee deelgeneem.

Dít was tydens die eindronde van die 200 by die Wêreldkampioenskap in Londen, waar hy silwer gewen het.

Nie lank daarna nie het hy die kruisligament in sy regterknie beseer en moes hy vir lank rehabilitasie ondergaan.

Meer oor:  Atletiek  |  Wayde Van Niekerk  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.