Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Wayde en Ans kyk nog kat uit boom
Wayde van Niekerk het op 26 Augustus 2015 sy eerste goue medalje by die Wêreldkampioenskap in Beijing gewen. Foto: Getty Images

Dit is presies vyf jaar sedert Wayde van Niekerk hom die eerste keer as die wêreld se voorste atleet in die 400 m gevestig het, maar ná byna drie jaar in die wildernis hoop dié blits September kan uiteindelik die amptelike hervatting van sy loopbaan inlui.

Op hierdie dag (Woensdag) in 2015 het Van Niekerk sy eerste wêreldtitel verower by die Wêreldkampioenskap in Beijing, waar hy die gunstelinge, die destydse Olimpiese kampioen Kirani James en die 2013-wêreldkampioen LaShawn Merritt, verras het om goud te wen.

Voordat Van Niekerk homself as die voorste atleet ter wêreld gevestig het, is elke groot byeenkoms sedert 2008 deur James of Merritt gewen.

Die Vrystater het die wenstreep in ’n tyd van 43.48 sekondes oorgesteek en sodoende die Afrika-rekord agter sy naam geskryf. Dit was destyds ook die vierde vinnigste tyd in die geskiedenis.

Die Vrystater het die wenstreep in ’n tyd van 43.48 sekondes oorgesteek en sodoende die Afrika-rekord agter sy naam geskryf. Dit was destyds ook die vierde vinnigste tyd in die geskiedenis.

Net die Amerikaners Michael Johnson (43.18), wat toe nog die wêreldrekord gehou het, Butch Reynolds (43.29) en Jeremy Wariner (43.45) was in daardie stadium al vinniger.

Die Suid-Afrikaner het in Beijing sy plek in die halfeindronde bespreek nadat hy 44.42 in die uitdunne gehardloop het, die vierde vinnigste tyd.

In die halfeindronde het hy net ’n rapsie meer vet gegee en ’n 44.31 gehardloop, wat weer die vierde vinnigste was.

In die eindronde het hy egter na ’n hoër rat oorgeskakel en gewys hoe ver hy gekom het sedert hy in 2013 in Moskou nie eens die uitdunne kon oorleef nie.

Van Niekerk het destyds in Rusland by sy eerste senior Wêreldbyeenkoms uitgeval met ’n tyd van 46.37. Merritt het eindelik op die boonste trap van die podium gestaan nadat hy ’n tyd van 43.74 in die eindronde aangeteken het.

Van Niekerk het natuurlik in 2016 Johnson se wêreldrekord verpletter en tot 43.03 verbeter toe hy by die Olimpiese Spele in Rio goud verower het. Hy het daarna in 2017 sy wêreldtitel in Londen suksesvol verdedig voordat ’n ernstige kniebesering in Oktober van daardie jaar hom op die langtermyn-krukkelys gedwing het.

Die Vrystater is tans in Gemona, Italië by sy Europese oefenbasis, waar hy sy voorbereiding kon hervat nadat hy twee weke lank in kwarantyn was.

Dit het gevolg nadat hy vermoedelik ’n vals positiewe toetsresultaat vir Covid-19 gehad het op die vooraand van sy terugkeer by ’n byeenkoms in Trieste, Italië.

Ans Botha. Foto: André damons

Van Niekerk se kamp het bevestig dat die naelloper en sy breier, Ans Botha, steeds die kat uit die boom kyk oor waar hy sy eerste internasionale wedloop sedert 2017 sal hardloop.

“Wayde was lank in kwarantyn, so ons sal kyk hoe gaan dit met sy oefeninge en dan sal Wayde en Ans besluit,” het Peet van Zyl, sy agent gesê.

September val nog binne Wêreldatletiek se amptelike venster vir byeenkomste vir 2020, wat beteken dat Van Niekerk geen tekort aan keuses sal hê nie.

Meeste byeenkomste in dié tyd vorm deel van Wêreldatletiek se Kontinentale reeks (wat op hul beurt in goue, silwer- en brons-byeenkomste opgedeel word).

Twee Amerikaners beklee tans die voorste plekke op die wêreldranglys vir 400-atlete.

Justin Robinson het twee weke gelede ’n tyd van 44.91 in die VSA gehardloop, terwyl Michael Cherry in dieselfde wedloop tweede was in 44.98.

Michael Norman is ’n jong Amerikaanse atleet wat Wayde van Niekerk nog opdraande kan gee in die 400 m. Foto: Getty Images

In 2019 het drie atlete daarin geslaag om vinniger as 44 sekondes te hardloop.

Hulle was Michael Norman (VSA, 43.45), Steven Gardiner (Bahamas, 43.48) en Fred Kerley (VSA, 43.64).

Die 22-jarige Norman word beskou as ’n atleet met die potensiaal om Van Niekerk se wêreldrekord te oortref.

Van Niekerk is die enigste atleet wat al onder tien sekondes in die 100 (9.94), onder 20 in die 200 (19.84), onder 31 in die 300 (30.81) en onder 44 in die 400 kon hardloop.

Norman het in Julie die 100 in ’n haastige 9.86 afgeblits en daarmee homself onderskei as net die tweede atleet wat onder tien in die 100, onder 20 in die 200 (19.70) en onder 44 in die 400 kon hardloop.

Meer oor:  Ans Botha  |  Wayde Van Niekerk  |  Bloemfontein  |  Afrigter  |  400 M  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.