Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Tannie Ans gun dit vir Wayde van Niekerk

Die nuus dat Wayde van Niekerk (28) by 'n nuwe afrigter in Amerika aansluit het wêreldwyd opspraak gemaak.

Tannie Ans Botha, sy jare lange afrigter, sê sy gun dit met haar hele hart vir Van Niekerk om sy vlerke te gaan sprei.

Die wêreldrekordhouer en Olimpiese kampioen oor 400 m gaan hom tydelik in Amerika vestig voor die Olimpiese Spele.

Wayde van Niekerk en sy tannie Ans Botha. Foto: Gallo Images

’n Verklaring uit Van Niekerk se kamp noem hy gaan onder die wakende oog van die bekende naelloop-afrigter Lance Brauman, wat ’n amptelike Adidas-afrigter is, hom verder voorberei.

Die Amerikaanse naelloper Noah Lyles, wêreldkampioen oor 200 m en Shaunae Miller-Uibo van die Bahamas, die vroue se goue medaljewenner oor 400 m, is van die oefenmaats wat hy by sy nuwe oefenbasis in Claremont, Florida, gaan hê.

“Ek het die grootste deel van my loopbaan onder leiding van tannie Ans in Bloemfontein deurgebring en kan nie die dankbaarheid wat ek het uitspreek vir alles wat sy gedoen het om my te help om tot hier in my loopbaan te kom nie,” sê Van Niekerk.

“Soveel as wat ek dit by tannie Ans en haar groep geniet het, hoop ek om my wêreldrekord (43.03 sekondes) te verbeter. En om dit te doen, moet ek seker maak dat ek saam met die wêreld se beste naellopers oefen.

“Ek voel dus dat ’n tydelike skuif na Amerika in my beste belang is,” sê Van Niekerk in die verklaring.

“Ek sien uit daarna om saam met my nuwe afrigter en oefenmaats te oefen en ek hoop om die Suid-Afrikaanse vlag steeds met trots op internasionale vlak te dra.”

Die Spele sal in Julie en Augustus gehou word en Van Niekerk sal sy toekomsplanne daarna herevalueer.

Botha sê sy was darem bewus van alles en daar is nie enige kwade gevoelens nie, sy en Van Niekerk het soos altyd steeds ’n goeie verhouding.

“Dis ’n keuse wat hy gemaak het en ek verstaan dit.”

Botha sê hulle weet nie wat die toekoms ná die Spele inhou nie en besef ook sy kan nie vir altyd aanhou om ’n afrigter te wees nie.

Sy sê soos ’n matrikulant wat na skool weggaan universiteit toe is iets wat Van Niekerk nie werklik ondervind het nie.

“Dis goed vir Wayde om ’n bietjie weg te kom en ander dinge te gaan ervaar. Hy was oor al die jare so lojaal teenoor die Vrystaat en almal hier. Dis tyd dat hy ’n ander wêreld gaan ervaar. Ek gun dit vir hom.”

Meer oor:  Ans Botha  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Wayde Van Niekerk  |  Vsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.