Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Wayde loop Wêreldkam-pioenskap mis

Wayde van Niekerk sal nie vanjaar sy titel probeer verdedig by die Wêreldkampioenskap in Doha nie.

Só het dié 400 m-wêreldrekordhouer en Olimpiese kampioen Maandag in ’n verklaring gesê.

Wayde van Niekerk gaan nie eersdaags in Doha in aksie wees nie. Foto: Gallo Images

Hy is egter vol vertroue dat hy wel binnekort weer ’n terugkeer tot die atletiekbaan sal maak.

Dit volg nadat hy in Junie tydens ’n oefensessie ’n beenkneusing opgedoen het, kort ná sy langverwagte terugkeer tot die atletiekbaan.

Hy het sy rehabilitasie voltooi by die Aspetar-sportmedisynehospitaal in Doha, waarna hy teruggekeer het na Italië waar hy tans in Gemona is om weer ten volle te kan begin oefen onder die wakende oog van sy afrigter, Ans Botha.

“Ek is steeds positief en ek vat dinge net dag vir dag, terwyl ek die besluite deur die dokters en my liggaam respekteer,” sê Van Niekerk in die verklaring.

“Dit gaan vir my daaroor om na my liggaam te luister en dinge van daar te neem. My hoofdoel is om na my lyf om te sien en wanneer die geleentheid (om weer deel te neem) kom, dan sal ek dit aangryp.”

Hy sê dat hy nie oorhaastig gaan wees met sy terugkeer tot internasionale byeenkomste nie en dat hy ook nie onnodige druk op homself wil plaas nie.

“Ek is ongelooflik gelukkig met waar ek tans is en het ook vrede in my hart,” sê Van Niekerk.

Dr. Louis Holtzhausen, die voormalige spandokter van die Cheetahs en die nasionale Olimpiese span, is ook tevrede met Van Niekerk se vordering en glo sy terugkeer is om die draai.

“Die mediese spanne, beide die in Bloemfontein en in Aspetar, het alles gedoen wat ons kon om hom reg te kry vir die Wêreldkampioenskap, maar dit was net nie moontlik nie,” sê Holtzhausen, wat tans in Katar woon.

“Hy kan egter weer begin oefen en alle aanduidings is dat hy van nou af net vinniger en vinniger sal herstel,” het hy bygevoeg.

Van Niekerk se laaste internasionale wedloop was tydens 2017 se Wêreldkampioenskap in Londen, waar hy die 400 gewen en die silwermedalje in die 200 verower het.

Hy is in Oktober 2017 tydens ’n raakrugbywedstryd ernstig beseer toe hy sy ligament en meniskus (’n stukkie kraakbeen wat ’n kussing bied tussen die bobeen en die maermerrie) geskeur het. Hy het gevolglik die hele 2018-seisoen misgeloop.

Meer oor:  Atletiek  |  Wayde Van Niekerk  |  Doha  |  Iaaf  |  Asa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.