Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Wayde opgewonde oor terugkeer

Die atletiekwêreld gaan regop sit wanneer Wayde van Niekerk Saterdag in Trieste, Italië, die eerste keer in bykans drie jaar buite Suid-Afrika in die blokke sak.

Die wêreldrekordhouer in die 400 m is egter die ene opgewondenheid om by die Triveneto-byeenkoms in die Grezar-stadion aan te tree in sy voorkeuritem, asook die 100 m.

Wayde van Niekerk neem Saterdag in Italië die eerste keer sedert 2017 weer oorsee deel. Foto: Getty Images

Dit sal sy eerste internasionale byeenkoms wees sedert hy in 2017 sy kruisligament in sy regterknie beseer het en vir lank rehabilitasie moes ondergaan.

“Ek sien uit daarna om weer te sien hoe my lyf reageer en in ’n wedloopsituasie voel. Dit sal lekker wees om weer die litte los te maak,” sê Van Niekerk.

Hy glo dié twee wedlope sal vir hom ’n goeie aanduiding gee van hoe hy gevorder het met sy voorbereiding, veral nadat die nasionale staat van inperking sedert Maart verhoed het dat hy toegang tot ’n atletiekbaan kon kry.

Van Niekerk het in Februarie die roes begin afskud deur aan enkele byeenkomste in Bloemfontein deel te neem, voordat die uitbreek van die Covid-19-pandemie hom tot sy huis beperk het.

“Dit was moeilik tydens die inperking, maar ek is bevoorreg deurdat ek onlangs gimnasiumtoerusting in my huis laat installeer het, so ek kon by die huis oefen,” vertel die 28-jarige.

“Dit is natuurlik nie soos om buite of op die baan te oefen nie en dit was moeilik om my doelwitte te bereik, maar ek het my bes probeer om gefokus te bly. Alle atlete wêreldwyd was egter in dieselfde bootjie.”

Dit sal onrealisties wees om enige aardskuddende tye die naweek te verwag, maar die Vrystater sal wel die eerste groot tree neem in die hoop om sy Olimpiese kroon by die Tokio-Spele in 2021 te verdedig.

“Ons sal nou sien wat gedoen moet word om positiewe momentum op te bou in die aanloop tot 2021.”

Ek sien uit daarna om weer te sien hoe my lyf reageer en in ’n wedloopsituasie voel.
Wayde van Niekerk

Van Niekerk is bekend vir sy optimisme en kanniedood-houding. Dít blyk duidelik wanneer hy oor die uitstel van die skouspel in Japan praat.

“Tokio is net nog ’n deel van my algehele nalatenskap. Dit (die uitstel van die Olimpiese Spele) gee vir my meer tyd om myself sterker te maak, sodat ek selfs ’n beter peil kan hê vir die byeenkoms. Hoewel dit hartseer is dat dit nie vanjaar gehou kan word nie, gaan dit wel steeds plaasvind.”

Die Amerikaans-gebore Italianer Marcell Jacobs sal Van Niekerk se grootste bedreiging in die 100-naelloop in Trieste wees.

Jacobs het ’n persoonlike beste tyd van 10.03 sekondes in dié nommer en het onlangs ’n 10.14 gehardloop.

Van Niekerk het verras toe hy in Februarie ’n haastige tyd van 10.10 in die 100 behaal het kort ná sy terugkeer.

In die 400 sal die Spanjaard Samuel Garcia en die Italianer Edoardo Scotti vir die Suid-Afrikaner op sy tone hou.

Garcia sal aan sy eerste wedloop van die jaar deelneem, met Scotti wat net minder as drie weke gelede die 400 in 46.08 voltooi het.

Van Niekerk se breier, Ans Botha, sal eers ná die naweek besin oor waar hy volgende sal deelneem in Europa.

“Daar is ’n paar opsies, maar ons hanteer dit week vir week en sal besluit op grond van hoe my liggaam voel. Die fokus is uiteraard nou om gesond te probeer bly. Dit sal alles van my afrigter afhang en hoe sy voel oor waar ek tans met my voorbereiding is,” het Van Niekerk gesê.

Dié Olimpiese kampioen is tans by sy Europese oefenbasis in Gemona, Italië.

Hy sal waarskynlik nie voor Oktober terugkeer Suid-Afrika toe nie.

Ruswahl Samaai (verspring) en Antonio Alkana (110-hekkies) sal die ander Suid-Afrikaners wees wat saam met Van Niekerk in Trieste gaan deelneem.

* Die byeenkoms kan hier regstreeks gevolg word van 18:50.

* Program vir SA atlete (SA tyd):

18:05: Wayde van Niekerk, 100-uitdunne

18:50: Antonio Alkana, 110-hekkies

19:25: Ruswahl Samaai, verspring

19:35: Van Niekerk (moontlik), 100-eindronde

19:55: Van Niekerk, 400

Meer oor:  Ans Botha  |  Wayde Van Niekerk  |  Trieste  |  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.