Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Van Niekerk oplaas oorsee in aksie
Wayde van Niekerk sal Dinsdagaand die eerste keer sedert 2017 weer oorsee sy slag wys. Foto: Getty Images

Wayde van Niekerk sal Dinsdagaand die eerste keer in 1 132 dae uiteindelik weer op die internasionale verhoog in die blokke sak.

Die Vrystater sal by die Gala Dei Castelli-byeenkoms in Bellinzona, Switserland, sy terugkeer tot die atletiekbaan maak nadat hy in Julie positief getoets is vir Covid-19 en etlike weke lank in isolasie moes deurbring.

Hy sal om 20:10 aantree vir die 400 m, die item waarin hy die wêreldrekord hou.

“My lyf is gesond en daarvoor is ek dankbaar. Ek sien uit daarna om weer deel te neem,” het Van Niekerk Maandag luidens ’n verklaring gesê.

“Ons het geen doelwitte vir die wedloop nie. Ek is net opgewonde om te sien hoe my lyf weer reageer in ’n wedloop-situasie en dit sal lekker wees om die litte weer los te kry.

Ons het geen doelwitte vir die wedloop nie. Ek is net opgewonde om te sien hoe my lyf weer reageer in ’n wedloop-situasie.
Wayde van Niekerk

“Dit sal ’n goeie aanduiding gee van waar ons is nadat ek 25 dae in isolasie moes spandeer en daarna kan ons fokus op wat gedoen moet word om momentum te bou in die aanloop tot die 2021-seisoen.”

Van Niekerk is in Julie na Italië, waar hy by sy oefenbasis in Gemona met sy voorbereiding vir die internasionale seisoen begin het.

Op die vooraand van sy eerste wedlope, in Trieste, Italië, is die Suid-Afrikaner positief vir Covid-19 getoets.

Hy sou in die 100 en 400 aangetree het.

Hy moes hom toe aan die byeenkoms onttrek waarna hy in kwarantyn geplaas is en glad nie toegang tot die oefengeriewe gegee is nie.

Ans Botha Foto: Gallo Images

Hy is egter op 14 Augustus toegelaat om sy voorbereiding te hervat nadat hy deurlopend geen simptome van die siekte gewys het nie.

Sedertdien het hy en Ans Botha, sy breier, hard gewerk om hom gereed te kry.

Van Niekerk se terugkeer sal die grootste trekpleister in Bellinzona wees.

Hy sal onder meer teen die plaaslike gunsteling, Ricky Petrucciani, wat ’n bronsmedaljewenner by die o.23-Europese Kampioenskap was, te staan kom.

Petrucciani sal egter op sy stukke moet wees met sy persoonlike beste van 46.30 sekondes, wat ligjare stadiger as Van Niekerk se wêreldrekord van 43.03 is.

Ruswahl Samaai sal by dié byeenkoms in die verspring in aksie wees en die tafel is vir ’n groot tweestryd gedek.

Hy sal teen die verrassingspakket by verlede jaar se Wêreldkampioenskap in Doha, Tajay Gayle van Jamaika, te staan kom.

Gayle het nog net drie keer vanjaar deelgeneem, die laaste hiervan op 29 Augustus, maar hy het by al dié byeenkomste elke keer verder as 8,00 m gespring.

Ruswahl Samaai in aksie by die Statebondspele . Foto: Getty Images

Samaai het self vanjaar nie te sleg gevaar nie en eerste plekke by die Diamantliga-byeenkoms in Stockholm (8,09 m) en by die Palio Città della Quercia-byeenkoms in Rovereto, Italië (8,00 m) behaal.

Finland se Kristian Pulli, wat in Junie ’n persoonlike beste afstand van 8,27 m behaal het, sal ook onder die aanspraakmakers wees. Simon Ehammer sal voor sy tuisskare weer ’n vertoning wil lewer soos toe hy in Junie 8,15 m behaal het.

Nog Suid-Afrikaners, Akani Simbine en Antonio Alkana, is vir die byeenkoms ingeskryf en sal na verwagting onderskeidelik in die 100 m en 110-hekkies aantree. Dit sal vir Simbine en Alkana as goeie opwarming dien vir Donderdag se Diamantliga-byeenkoms in Rome.

Van Niekerk se wedloop in Switserland sal egter sy eerste en laaste wees voordat hy weer terugkeer na Suid-Afrika, waar hy sy voorbereiding vir die Olimpiese Spele in Tokio in 2021 sal voortsit.

Volgens die organiseerders van die byeenkoms in Switserland sal dit regstreeks op sport.rsi.ch gestroom word.

Tye wat Suid-Afrikaners deelneem:

Verspring: Ruswahl Samaai (19:30); 400: Wayde van Niekerk (20:10); 100: Akani Simbine (20:32); 110 m-hekkies: Antonio Alkana (20:40).

Meer oor:  Akani Simbine  |  Wayde Van Niekerk  |  Rushwahl Samaai  |  Suid-Afrika  |  Atletiek  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.