Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Wayde wag op uitslae van 2de virustoets

Wayde van Niekerk wag op die uitslae van ’n tweede toets vir die Covid-19-virus nadat hy glo positief getoets is enkele ure voordat hy sy terugkeer tot die atletiekbaan sou maak in Trieste, Italië.

Van Niekerk was geskeduleer om Saterdagaand in die 100 m en 400 m deel te neem. Dit sou sy eerste internasionale wedlope wees sedert hy in 2017 silwer gewen het in die 200 m by die Wêreldkampioenskap in Londen.

Hy het egter aan die wedloop onttrek nadat hy positief getoets is vir dié siekte.

Wayde van Niekerk / Foto: Getty Images

“Ek weet nie hoe dit moontlik is nie. Wayde het die hele week geoefen en nooit enige simptome gewys nie, nie eens nadat hy positief getoets is nie. Hy het nooit ’n koors gehad nie,” het sy agent, Peet van Zyl, luidens die Italiaanse publikasie La Gazzetta dello Sport gesê.

“In die afgelope 14 dae is elkeen van ons vier keer getoets. Die laaste was Donderdag. Vrydagmiddag het ons gevra om weer getoets te word, want ons wou seker maak ons is veilig. Ons wag nog op die uitslae.”

Van Zyl reken dat Van Niekerk nie juis blootgestel is aan mense waar hy moontlik die virus sou opdoen nie en daarom het hulle aangedring op ’n tweede toets om seker te maak dat hy wel die koronavirus onder lede het.

Die blits is tans in Gemona, waar sy Europese oefenbasis is om te voordeel te put uit die Noordelike Halfrond se somerseisoen. Dit is hier waar hy positief getoets is.

Van Niekerk, die verspringer Ruswahl Samaai en die hekkiesatleet Antonio Alkana is die Suid-Afrikaners wat tans in Gemona is vir die Triveneto-byeenkoms.

“Ons was nog heeltyd geïsoleer. Ons was nooit by ander mense nie, ons het ’n hotelvloer net vir ons en ’n toegekende kamer net vir ontbyt, middagete en aandete,” het Van Zyl bygevoeg.

“Ons het net die hotel verlaat om na die baan te gaan. Daarom het ons vir nog ’n toets gevra, want ons wil verstaan.”

Vir Van Niekerk is dit die soveelste terugslag sedert daardie noodlottige dag in Oktober 2017 toe hy tydens ’n raakrugbywedstryd sy kruisligament beseer het.

Hy moes die Statebondspele in 2018 in Australië se Goudkus uitsit en het boonop die Wêreldkampioenskap verlede jaar in Doha misgeloop.

Dié oudleerling van Grey Kollege in Bloemfontein het enkele wedlope in Februarie ingewerk om sy litte los te maak, maar sy terugkeer is toe weens die uitbreek van die Covid-19-pandemie kortgeknip.

Samaai sal na verwagting steeds by die verspringput aantree, met Alkana wat in die 110 m-hekkies in die blokke sal sak.

Van Zyl het nog nie op Netwerk24 se navrae gereageer nie.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Wayde Van Niekerk  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.