Ofskoon die Olimpiese kampioen Wayde van Niekerk drie jaar laas op die hoogste vlak deelgeneem het, het hy vir hom die groot doelwit gestel om die eerste mens te word om ’n 400 m-wedloop in minder as 43 sekondes te voltooi.

Wayde van Niekerk het vir homself ’n moeilike nuwe doelwit gestel. Foto: Gallo Images
Dié Suid-Afrikaner was op die kruin van die golf toe hy in 2016 in ’n wêreldrekordtyd van 43.03 sek. op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro goud verower het. Dít het Michael Johnson se 17 jaar oue rekord van 43.18 verpletter.
Van Niekerk het daardie sukses met goud op die Wêreldkampioenskappe in 2017 in Londen (asook silwer in die 200 m) opgevolg voordat die noodlot toegeslaan en hy sy knieligamente in ’n raakrugby-wedstryd op Nuweland geskeur het.
Die herstelproses was stadig en van Niekerk het sedertdien nog net aan enkele plaaslike wedlope deelgeneem. Tog het dié terugslag nie sy ambisie getemper nie.
“As ek wil groei (as atleet), beteken dit my tye moet in die omgewing van 42 sekondes wees. Dis wat my kop én my hart vir my sê,” het hy in ’n onderhoud met BBC Sport gesê.
“Dis die mededinger in my wat na vore kom, en as ek bereid is om met minder as dit tevrede te wees, sal ek myself en my afrigtingspan ’n onreg aandoen.
“Ek het ’n diep begeerte om iets te bereik wat moeilik geëwenaar sal word. Noudat ek uit ’n tydperk van swaarkry kom, is my aptyt vir sukses net nog groter.”

Die oomblik toe Wayde van Niekerk sy regterknie in ’n raakrugbywedstryd in 2017 ernstig beseer het. Foto: Gallo Images
Die 28-jarige Van Niekerk, ’n neef van die Springbok-blits Cheslin Kolbe, het in dié onderhoud nogmaals toegegee dat hy nooit moes ingestem het om destyds in die raakrugby-wedstryd, wat vir liefdadigheid was, te speel nie.
“My liggaam was gekondisioneer om reguit te hardloop, nie om systappe te doen nie. Dit was uiteraard ’n baie simpel besluit.”
Van Niekerk erken dat sy ernstige besering, terwyl hy in die fleur van sy loopbaan was, hom ontmoedig het.
“Die eerste twee weke (ná die besering) was veral moeilik en dit het gevoel asof ek op pad is na ’n baie donker plek. Ek moes van voor af weer begin.
“Ek moes voortdurend vir myself sê dat ek verantwoordelikheid vir my besluit moet neem.” – Reuters
* Van Niekerk se wêreldrekord-wedloop in 2016: