Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Wenda seil oor hekkie tot in span vir Spele

Om vir ’n Olimpiese Spele te kwalifiseer, is uit eie reg ’n uitsonderlike prestasie, maar wanneer jy dit boonop vermag terwyl jy nog nie eens op jou beste is nie, dan is dit rede tot opgewondenheid.

So reken die 400 m-hekkiesblits Wenda Nel, wat verlede week haar plek in die Suid-Afrikaanse span vir die Tokio-skouspel bespreek het ná ’n haastige vertoning in Potchefstroom.

Die 400 m-hekkiesatleet Wenda Nel beoog om ’n plek in die eindronde te haal op vanjaar se Olimpiese Spele. Foto: Gallo Images

Haar tyd van 55.16 sekondes in die Kenneth McArthur-stadion plaas haar tans in die derde plek op die wêreldranglys en beteken dat sy haar tweede Olimpiese byeenkoms kan bywoon nadat sy in 2016 ook in Rio de Janeiro was.

Dit was Nel se vinnigste tyd sedert sy in April van 2018 brons op die Statebondspele in Australië se Goudkus verower het.

“Ek het geweet die deurbraak moet binne die volgende wedloop of twee kom,” vertel Nel.

“Ek het in die blokke gesak en dit was my doel vir die dag. Nou kan ek op die res van my seisoen se beplanning fokus.”

Nel sê dat sy in April gedurende die Suid-Afrikaanse kampioenskap by Tuks al gevoel het of ’n goeie tyd net om die draai is.

Sy het die nasionale titel toe vir die negende keer sedert 2010 verower, maar ongelukkig was haar tye van 55.60 en 55.58 steeds net ’n raps stadiger as die Olimpiese vereiste van 55.40.

“ ’n Mens se tye gedurende oefensessies gee gewoonlik ’n aanduiding van waar jy tans is wat jou peil betref. Wedlope is egter ’n ander ervaring, met dinge wat dan in plek moet val.”

Wenda Nel (middel) op pad na haar negende Suid-Afrikaanse titel in die 400 m-hekkies op die nasionale kampioenskappe in April. Foto: Gallo Images

Twee weke ná die nasionale byeenkoms het Nel – ook in Potchefstroom – nog nader gekruip aan Olimpiese kwalifikasie met ’n 55.51, voordat sy eindelik die vereiste tyd met 0.24 van ’n sekonde oortref het.

Nel reken daar is baie ruimte vir verbetering met talle foute wat nog uitgestryk kan word.

“My droom is nog altyd om op my beste te wees op die groot byeenkomste. Dit was nog altyd ’n uitdaging, want dit het al verskeie kere gebeur dat ek my beste tyd van die jaar voor of ná daardie byeenkomste hardloop. Soms het die druk my al gevang.

“Ek wil graag in die eindronde van die Spele kom. As jy eers daar is, dan kan enigiets gebeur.

“My laaste wedloop was ver van perfek af, so ek is opgewonde, want ek kan nog baie verbeter.”

Ek het so lanklaas so lekker gevoel soos nou en met my liggaam wat gesond is en die beseringspook wat weg is, is ek so dankbaar en gretig om deel te neem. Gee my net nog ’n wedloop!

Die 32-jarige het voor vanjaar in Augustus 2019 laas in haar voorkeurnommer gehardloop.

Dít nadat ’n dyspierbesering haar lank gehinder het. Sy het in 2020 enkele wedlope in die 200 m en 400 m gehardloop voordat die Covid-19-pandemie die atletiekseisoen kortgeknip het.

Sy is nou egter met mag en mening terug.

“Ek is nou weer uitgehonger vir hardloop.”

Nel was in 2019 in Europa toe sy ’n sening in haar dyspier geskeur het en weke lank op die krukkelys was.

“Ek was in 2019 beseer en het drooggemaak in verskeie wedlope. Ek was ná die Statebondspele nie op my beste nie,” vertel sy.

Nou is sy weer gemotiveerd en die begeerte om in die blokke te sak groter as ooit.

“Ek het so lanklaas so lekker gevoel soos nou en met my liggaam wat gesond is en die beseringspook wat weg is, is ek so dankbaar en gretig om deel te neem. Gee my net nog ’n wedloop!”

Sy sou reeds op 19 Mei met die Golden Spike-byeenkoms in Ostrava in die Tsjeggiese Republiek haar oorsese seisoen begin het, maar komplikasies weens Covid-19-regulasies het ’n stokkie hiervoor gesteek.

“Ons wag nou vir ons visums en dan sal ons besluit watter lande en byeenkomste ons kan teiken.”

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Wenda Nel  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.