Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Wêreldrekord spat 2 keer in 3 dae

Die Nederlander Sifan Hassan se wêreldrekord in die 10 000 m het skaars twee dae gestaan voordat dit op indrukwekkende wyse deur Letesenbet Gidey van Ethiopië verbeter is.

Letesenbet Gidey van Ethiopië is nou die wêreldrekordhouer in die 5 000 m én 10 000 m. Foto: Getty Images

In Hengelo, op dieselfde baan waar Hassan Sondag met ’n tyd van 29 minute, 06.82 sekondes die wêreldrekord agter haar naam geskryf het, het Gidey haar tyd verpletter en die wenstreep in 29:01.03 oorgesteek.

Gidey het in 2020 ook die wêreldrekord in die 5 000 m (14:06.62) opgestel.

Sy was Dinsdag so blitsig dat sy meer as ’n minuut voor die silwermedaljewenner, Tsigie Gebreselama (30:06.01), klaargemaak het.

“Ek het verwag om ’n nuwe rekord op te stel,” het die 23-jarige, nou die eerste vrou sedert Ingrid Kristiansen wat met die wêreld se vinnigste tye in die 5 0000 sowel as 10 000 spog, agterna op Wêreldatletiek se webwerf gesê.

“Ek sal daarvan hou om die wêreldrekord weer te verbeter en hopelik deur die 29 minuut-grens te bars.”

Tussen 1986 en 1993 was Ingrid Kristiansen van Noorweë die wêreldrekordhouer in die 5 000 m en 10 000 m. Foto: Getty Images

Kristiansen, van Noorweë, het tussen 1986 en 1993 die rekords in die 5 000 (14:37.33) en 10 000 (30:13.74) gehou.

Ababel Yeshaneh het aanvanklik by Gidey gebly en was op koers vir ’n wêreldrekord. Dít kon gesien word danksy die bewegende blou ligte aan die binnekant van die baan wat die wêreldrekord-pas aandui.

Yeshaneh se stoom het uiteindelik opgeraak, maar Gidey het met rondtetye van 72 sekondes volhard.

Toe die klok lui om haar laaste rondte aan te dui, was haar tyd 28 minute en moes sy die laaste 400 m in 68 sekondes of vinniger aflê om Hassan se rekord te verbeeter. Al moes sy deur verskeie ander atlete, wat sy reeds verbygesteek het, vleg onderweg na die eindstreep, is sy met die rekord beloon.

Yeshaneh het later uitgeval, maar Gebreselama kon die wedloop voltooi, met Tsehay Gemechu wat derde geëindig het in 30:19.29.

• Die spiesgooier Rocco van Rooyen het Dinsdag nog ’n belowende vertoning gelewer.

Die Suid-Afrikaner het in Turku, Finland, die bronsmedalje gewen op ’n Goue byeenkoms van Wêreldatletiek se Kontinentale Toer. Sy afstand was 82,55 m.

Die Pool Marcin Krukowski, ’n voormalige Europese kampioen, se nuwe nasionale rekord van 89,55 m was meer as genoeg vir die eerste plek, terwyl Trinidad en Tobago se Keshorn Walcott, 2012 se Olimpiese kampioen en bronsmedaljewenner in Rio de Janeiro in 2016, naasbeste was met 82,84 m.

• Akani Simbine (100), Wenda Nel (400-hekkies) en Zakhiti Nene (400) sal Donderdag in Florence in aksie wees op ’n byeenkoms wat deel vorm van die Diamantliga-reeks.

Dit sal regstreeks vanaf 20:00 op SuperSport Variety 3 uitgesaai word.

Meer oor:  Atletiek  |  Letesenbet Gidey  |  Sifan Hassan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.