Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Atlete kan nie voorkeur vir inentings kry

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê gesondheidswerkers moet voorkeur kry om teen Covid-19 ingeënt te word, en nie atlete vir die Olimpiese Spele nie.

Die WGO is tans besig om die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) en Japan se owerhede oor die aanbied van die Tokio-Spele te adviseer.

Dr. Mike Ryan van die WGO sê sportlui behoort nie ’n prioriteit vir inentings te wees nie. Foto: Getty Images

Japan sál die Spele vanjaar aanbied, het die land se eerste minister, Josjihide Soega, volgehou nadat beamptes ook verlede week in die Britse Times ontken het dat Tokio enigsins die hoop laat vaar het om die skouspel aan te bied.

Dr. Mike Ryan, uitvoerende direkteur van die WGO, het op ’n nuuskonferensie in antwoord op die vraag of atlete voorkeur moet geniet om ingeënt te word, gesê daar moet na die werklikheid van die huidige situasie gekyk word.

“Daar is tans nie genoeg teenmiddels om dit selfs net te gee vir dié wat dit die meeste benodig nie,” het hy gesê.

“Ons bevind ons in ’n wêreldkrisis, wat vereis dat gesondheidswerkers, ouer mense en diegene wat die kwesbaarste in ons samelewing is, eerste toegang tot die teenmiddel kry.”

Die Spele is veronderstel om op 23 Julie te begin nadat dit weens die Covid-19-pandemie reeds met ’n jaar uitgestel is.

Volgens Ryan sal die WGO met die IOK, wat in Lausanne gesetel is, sowel as die gasheerstad en Japan se ministerie van gesondheid, arbeid en welsyn saamwerk om advies te verskaf oor hoe om die proses te hanteer. Die besluit of die Spele mag voortgaan, berus egter nie by die WGO nie.

“Die finale besluit oor die maatreëls om die risiko vir die Olimpiese Spele te bestuur, asook die finale besluit oor die Spele self berus by die IOK en die Japanse owerhede,” het hy gesê.

My persoonlike siening is dat sportlui nie voor in die ry kan staan nie
Greg Dyer

• Greg Dyer, voorsitter van Krieket Australië (CA), stem saam met die WGO en meen dit sal nie “moreel verdedigbaar” wees om sportlui voorkeur te gee wat die entstof betref nie.

Australië sal die teenmiddels in Februarie begin versprei en volgens die plaaslike media het CA gevra of hul groep spelers ingeënt sal word voordat hulle vertrek op hul toer na Suid-Afrika, waar ’n nuwe variant van die virus in die afgelope paar maande tot ’n tweede vlaag van infeksies gelei het.

Australië is veronderstel om drie toetse in Maart teen die Proteas te speel, hoewel geen datums of gasheerstede nog vasgestel is nie.

“My persoonlike siening is dat sportlui nie voor in die ry kan staan nie,” het Dyer aan die Sydney Morning Herald gesê.

“Dit is die verkeerde boodskap. Daar is belangriker mense daar buite met baie groter kanse om blootgestel te word, wat eerste ingeënt moet word.”

Dyer sê die bioborrel se protokolle behoort só streng toegepas te word dat spelers nie teenmiddels benodig nie.

“Dit is nie moreel verdedigbaar om voorkeur aan sportlui te gee nie.”

Die Nasionale Rugbyliga (NRL) Doer Onder hoop ook dat sy spelers die teenmiddel sal ontvang voordat die nuwe seisoen in Maart begin.

Peter V’landys, voorsitter van die NRL, sê hy sal die saak stel aan die regering dat spelers deel van die derde fase van die verspreiding moet wees.

“Noodpersoneel moet dit eerste kry en dan die kwesbaarstes,” het V’Landys gesê.

“Wie is daarna? Wel, dit is waar ons in die prentjie kom.” – Reuters, Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.