Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Yank breed in Akani se pad in Birmingham

Akani Simbine sal Sondag ’n kans kry om te wys dat sy voorneme om goud in die 100 m-wedloop by aanstaande maand se Wêreldkampioenskap te verower nie blote wensdenkery is nie.

Die Suid-Afrikaanse blits tree dán in Birmingham aan vir die 11de Diamantliga-byeenkoms van die seisoen.

Simbine sal eers sy plek in die 100-eindronde in die uitdunne moet bespreek. Slaag hy daarin, sal een van sy teenstanders straks die vinnigste man in die wêreld vanjaar, die Amerikaner Christian Coleman, wees.

Christian Coleman van die VSA is tans die voorste atleet ter wêreld in die 100 m. Foto: Getty Images

Dié Yank spog vanjaar met ’n blitstyd van 9.81 sekondes. Simbine het sy vinnigste tyd vanjaar, ’n 9.93, in die vorige Diamantliga-byeenkoms in Londen aangeteken. Hy het toe goud gewen, maar Coleman het nie toe onder sy teenstanders getel nie.

Simbine en Coleman is tot dusver die enigste naellopers in die mansafdeling wat seker is van hul plek in die Diamantliga se eerste eindrondebyeenkoms op 29 Augustus in Zürich, Switserland.

Benewens Coleman sal Simbine nóg ’n Amerikaner, Michael Rodgers, fyn moet dophou. Rodgers het nog nie vanjaar sy beste peil bereik nie, met ’n vinnigste tyd van 10.00, maar hy spog met ’n persoonlike beste van 9.85.

Dan tel Yohan Blake van Jamaika, Arthur Cissé van die Ivoorkus en Andre De Grasse van Kanada ook onder die deelnemers. Hulle het almal vanjaar al vinniger as 10 sekondes gehardloop.

Die wedloop van die byeenkoms kan egter die 100 m-hekkies vir vroue wees, waar nie minder nie as agt van vanjaar se voorste tien atlete in die wêreld in die uitdunne sal aantree.

Danielle Williams van Jamaika, die 2015-wêreldkampioen, beklee tans die voorste plek op die wêreldranglys. Haar vinnigste tyd in 2019 was tot dusver 12.32 sek.

Haar landgenoot Janeek Brown spog met die naasvinnigste tyd (12.40).

Die VSA se Kendra Harrison (12.43), Nia Ali (12.55), Christina Clemons (12.58), Brianna McNeal (12.61) en Queen Claye (12.63), asook Nigerië se Tobi Amusan (12.49), sal die Jamaikane wil opdreun.

Danielle Williams van Jamaika sal wil voortbou op haar uitstekende peil vanjaar in die 100 m-hekkies. Foto: Getty Images

Ajeé Wilson sal in die binnebaan wees om met die louere weg te stap in die 800, in die afwesigheid van Suid-Afrika se Caster Semenya. Wilson is sover die naasvinnigste vrou vanjaar in die 800, met ’n tyd van 1:57.72. Dis egter drie sekondes agter Semenya se beste tyd in 2019 (1:54.98).

Al drie die medaljewenners in die vroue se 200 by die Wêreldkampioenskap in 2017 sal ook in aksie in dié nommer wees in Birmingham. Dafne Schippers van Nederland is die verdedigende wêreldkampioen, met Marie-Joseé Ta Lou van die Ivoorkus wat silwer en Shaunae Miller-Uibo van die Bahamas wat brons verower het.

Hulle sal egter hul storie teen die Brit Dina Asher-Smith en die Jamaikaan Shelly-Ann Fraser-Pryce moet ken.

* Die byeenkoms word Sondag regstreeks op SuperSport 8 uitgesaai vanaf 15:00.

Meer oor:  Akani Simbine  |  Atletiek  |  Iaaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.