Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Zane voldoen aan Tokio-Spele se vereiste

Die Suid-Afrikaans gebore Zane Weir se merkwaardige opgang in gewigstoot het Dinsdag voortgeduur toe hy vir die Olimpiese Spele in Tokio gekwalifiseer het.

Zane Weir het Dinsdag in Potchefstroom die Olimpiese Spele se kwalifiserende vereiste in die gewigstoot behaal. Foto: Frans Lombard

Dié oud-Durbaniet het die maatband op ’n ope byeenkoms in Potchefstroom se Kenneth McArthur-stadion tot 21,11 m – 1 cm verder as Wêreldatletiek se vereiste – laat rek. Dit is sy nuwe persoonlike beste afstand.

Jason van Rooyen het met ’n afstand van 20,97 m, wat ook die beste poging van sy loopbaan was, die tweede plek behaal.

Die voormalige o.20-wêreldkampioen Kyle Blignaut was met 20,90 m in die derde plek.

Die 25-jarige Weir se afstand in Potchefstroom was 41 cm verder as sy vorige beste poging, wat hy verlede September op ’n streekbyeenkoms in Trentino in die noorde van Italië behaal het.

Weir het in Augustus verlede jaar nog ’n persoonlike beste afstand van 20,31 m opgestel, wat beteken dat hy binne ’n kwessie van ses maande met 80 cm verbeter het.

Trouens, in 2018 was sy beste afstand ’n beskeie 15,77 m en in 2016 was dit 16,91 m.

Sy bronsmedalje in 2019 se Suid-Afrikaanse kampioenskappe was te danke aan ’n poging van 19,09.

Weir, wat in Durban gebore is en aan die Westville Boys High School in dié stad gematrikuleer het, het verlede jaar na Italië verhuis. Hy hoop om dié land binnekort te verteenwoordig, danksy ’n oupa aan sy ma se kant wat in Trieste gebore is.

Met sy skuif het hy hom aangesluit by Paolo Dal Soglio, ’n voormalige Europese binnenshuise kampioen, wat hom nou aan sy tegniek help slyp en Suid-Afrika ook in Januarie besoek het.

Weir sal na verwagting weer sy slag Saterdag in Boksburg wys.

Die Hoërskool Menlopark se Gerhard Crouss het die o.15’s se 300 m-hekkies in 42.31 sekondes gewen. Foto: Frans Lombard

• Die Hoërskool Menlopark se Gerhard Crouss het hakskene gewys in die o.15’s se 300 m-hekkies, waarin hy ’n wegholoorwinning in 42.31 sekondes behaal het. Dit was ’n volle 5.89 sekondes voor sy naaste teenstander.

Savannah Visser (15) het ook uitgeblink in die spiesgooi vir o.20’s met haar afstand van 46,76 m. Sy het ook die o.15’s se gewigstoot met 15,28 m gewen.

Nog ’n Parkie, Aiden Smith, was die wenner in die o.17’s se diskus (47,05 m) en die o.20’s se gewigstoot (18,34 m).

Die Hoërskool Goudveld in Welkom se hoofdogter, Miné de Klerk, het ook in die veld uitgestaan vir haar wenafstand van 17,55 m in die o.20’s se gewigstoot, wat 2,57 m beter as haar naaste teenstander, Juanita de Necker, was.

Tuks se Jovan van Vuuren het net-net nie daarin geslaag om die 8 m-kerf in die verspring te haal nie.

Hy het gemaklik gewen met ’n beste sprong van 7,97 m, maar is steeds opsoek na ’n afstand van 8,22 m of beter om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.

Meer oor:  Kwalifiseer  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.