Sport
Burta de Kock bly glo in jong doele

Burta de Kock, afrigter van die Crinums, glo Tanya Mostert (bo) sal die naweek sterk terugveg wanneer haar netbalspan weer aan die Brutal Fruit-liga deelneem. Foto: SASPA

BLOEMFONTEIN. – Burta de Kock, afrigter van die Vrystaat-Crinums se netbalspan, het groot vertroue in al haar spelers – ook diegene wat Saterdag in die Brutal Fruit-netballiga teen die Gauteng-Jaguars kleigetrap het.

Die Crinums het met 40-45 verloor, maar kon met beter korrelwerk die wedstryd gewen het.

Die hoofdoel, Danelle Willemse, het nie oortuig nie en die verdedigende vleuel, Tanya Mostert, het ook gesukkel en is deur een van die skeidsregters vir herhaalde onkantspel gewaarsku.

Mostert was daarna nie baie prominent op die verdediging nie.

“Almal het voete van klei en dit was haar (Danelle se) wedstryd waar sy dít gewys het, maar sy en al ons doele is uitstekende jong spelers in wie ek vertroue het.

“Tanya is nog ’n baba op nasionale vlak en moet ook nog emosioneel groei.

“Ek weet sy sal harder terugkom,” het De Kock gesê.

Dénielle van der Merwe het die eerste kwart op hoofdoel begin, waarna Willemse vir die res van die kragmeting by haar oorgeneem het.

Willemse, wat goed teen die Noordwes-Flames vertoon en haar span toe gehelp het om met 57-40 te seëvier, se verbroude doelpogings het haar hulpdoel, Maryka Holtzhausen, gedwing om ’n paar waaghalsige doelpogings te lanseer.

“Dénielle het effens plankevrees gehad waarna ek vir Danelle opgesit het.

“Sy het duidelik gewys sy is nie ’n impakspeler nie.

“Omdat sy lanklaas op die vlak gespeel het, wou ek haar op die baan hou om haar selfvertroue terug te kry.

“Ek het bly hoop sy sou spoedig emosioneel herstel.”

Die Crinums kom die naweek teen die Southern Stings en Golden Fireballs te staan.

Op grond van die eerste naweek se uitslae in die liga lyk dié twee spanne na die swakstes in Afdeling A.

Die Stings en Crinums sal albei sonder drie van hulle Proteas wees wat aan die Europese-kampioenskap deelneem.

Adéle Niemand (hoofdoelverdediger), Lauren-Lee Christians (senter) en Holtzhausen (hulpdoelskieter) se plekke in die 12-tal gaan deur Maryke Coetzee (hoofdoelverdediger), Khomotso Mamburu (hulpdoelverdediger) en Shéri Duimpies (senter) geneem word.

Met Rieze Straeuli (hoofdoel) nog in die Crinums se groep en die senter Lefebré Rademan wat ook hulpdoel kan speel, het De Kock besluit om met net drie spesialis-doelskieters na Pretoria te reis.

Volg Netwerk24