Sport
Dis amptelik: Hawies word Griekwas se hoofbreier
Engledow, Calldo sluit ook by afrigtingspan aan

Hawies Fourie

KIMBERLEY. - Die Cheetahs- en Vrystaat-Cheetahs se hulpafrigter, Hawies Fourie, is Donderdagoggend amptelik as nuwe hoofafrigter van Griekwas bekend gemaak. 

Die 45-jarige Fourie sal op 1 November die leisels by Pote Human oorneem. Human vertrek aan die einde van die seisoen na Pretoria waar hy as hoofafrigter van Tukkies vir die Varsitybeker-reeks gaan diens doen. 

Fourie is vir drie jaar by die Noord-Kapenaars aangestel, maar sal steeds as hulpafrigter vir Naka Drotské by die Cheetahs se Superspan betrokke wees. Met sy betrokkenheid daar sal sy nuwe hulpafrigter vir die Curriebeker-reeks, die Suid-Afrikaanse gebore Peter Engledow, as hoofbreier vir die Vodacombeker-reeks waarneem. Engledow vervang vir Abré Minnie, wat ook aan die einde van die seisoen sy fluitjie wegbêre.

Fourie het ook die dienste van die voormalige Cheetahs- en Vrystaat-stut Kobus Calldo bekom. Calldo, tans by Oakdale Landbou werksaam, is ook 'n fisioterapeut en sal die Poubloues ook in dié verband kan help wanneer hy nie besig is om hul skrums te dokter nie.  

Griekwas se huidige verdedigingsafrigter, Pieter Bergh, sal in sy pos aanbly, maar in die Vodacombeker-reeks as Engledow se hulpafrigter diens doen.  

"Hierdie is vir my 'n wonderlike geleentheid. Ek wou nog altyd weer in 'n pos as hoofafrigter gestaan het. Ek sien geweldig uit na die uitdaging," het Fourie Donderdag op die mediakonferensie by die Griekwaland-Wes Rugbyunie gesê. 

Volg Netwerk24