Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Gary Gold vra vir geduld om ’n wenspan te bou
Gary Gold | Foto: Steve Haag, Gallo Images.

Gee my net meer tyd met hierdie groep wat ek nou het.

Dit was Donderdag die pleidooi van Gary Gold, die Haaie se afrigter, oor die toekoms van dié span.

Of sy pleidooi ’n gunstige reaksie by die besluitnemers van Haaie-rugby gaan ontlok, sal nog gesien moet word.

Gold het erken daar is net mooi niks bereik met die afgelope Super-seisoen nie en erken as hy die laaste paar maande kon oorkry, sou hy glad nie sy Springbokke in die Super-reeks laat speel het nie.

“Ek sou in die Super-reeks die spelers gebruik het wat nou vir my Curriebeker-rugby speel. Ek sou vir die Springbokke gesê het hulle kan bloot net konsentreer op hul voorbereiding vir die Wêreldbeker,” het Gold onthul.

“Anders as vir enkele spelers wat die ervaring gekry het om Super-rugby te speel, het dié seisoen net niks vir ons beteken nie.

“Die eerste agt maande wat ek in beheer was, was glad nie ’n goeie begin vir my nie,” het hy erken.

“Ek voel indien daar volhard word met die huidige klomp jong spelers wat hier by die unie is, asook die onder 21-groep wat nou gekontrakteer is vir senior rugby, kan daar in die toekoms suksesvolle tye wees,” het Gold gesê.

Hy het erken hy weet nie of sy base bereid gaan wees om vas te byt en die saadjie wat hy glo gesaai is om in die toekoms sukses te behaal, genoeg tyd gaan gee om behoorlik te blom nie.

“Ek kan regtig nie vir jou sê of hulle die geduld gaan hê om vas te byt nie.”

Daar word reeds ander name rondgegooi as kandidate om by Gold oor te neem as die Super-afrigter vir aanstaande seisoen.

“Ek glo ons fokus moet wees om die toekoms aan te pak met die jong talent wat ons hier tot ons beskikking het en te bou aan ’n span. Ek verwag nie dat ons al aanstaande jaar ’n span gaan hê wat die Super-reeks kan wen nie, maar ek hoop net daar sal ’n bereidwilligheid wees om geduld te hê vir ’n jaar of drie om ’n wenspan te bou,” het Gold gesê.

In ’n wêreld waar kits-sukses verwag word, kan dit dalk net gebeur dat Gold nie daardie luuksheid gegun gaan word om die span steen vir steen te bou wat hy wil hê nie.

“Ek is dalk maar net ’n blinde optimis, maar ek het tog die gevoel dinge is besig om te verander en reg te kom,” het hy gesê.

Wat die onmiddelike toekoms betref, het hy gesê die realiteit wat die Haaie in die gesig staar is dat hulle albei hul wegwedstryde teen die Griekwas (Saterdag) en die Vrystaat moet wen om vir die halfeindstryd te kwalifiseer.

“Dit is so eenvoudig soos dit. Doen ons dit nie, is ons uit die wedloop.

“Kimberley en Bloemfontein is boonop twee baie moeilike plekke om na toe te gaan en oorwinnings te kry,” het Gold erken. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.